16 dood tydens stormloop by stadion

Argieffoto ter illustrasie.

Minstens 16 mense is Woensdagaand dood gedurende ʼn stormloop tydens ʼn konsert by ’n stadion in Antananarivo, die hoofstad van Madagaskar.

Talle mense het ʼn musiekkonsert gedurende dié land se 59ste herdenking van onafhanklikheid by die Mahamasina-stadion bygewoon na afloop van ʼn tradisionele militêre parade toe die stormloop plaasgevind het.

Volgens genl. Richard Ravalomanana, nasionale polisiehoof, het die skare mekaar begin vertrap kort voor die gewilde kunstenaar Rossy se optrede.

TRT World berig sekuriteitsbeamptes het die hekke van die omheinde area na afloop van die parade oopgemaak sodat diegene wat wou, kon inbeweeg. Duisende toeskouers het egter buite die stadion opgehoop en die hekke is toe weer gesluit om die skare te keer.

Al Jazeera berig ’n ooggetuie het verduidelik mense in die skare het gedink die hekke is nog oop en het aanhou druk om te probeer inkom. Mense by die hekke het glo probeer om dit oop te maak, maar kon nie daarin slaag nie met die skare wat aanhou druk van agter af.

Meer as 80 mense is gedurende die stormloop beseer en dit word gevrees dat die dodetal kan styg.

Prof. Olivat Rakoto Alson, direkteur van die Joseph Ravoahangy Andrianavalona-hospitaal, het gesê talle beseerdes is in ʼn kritieke toestand na dié hospitaal gehaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Attie. ·

Madagaskar is nie eintlik nuus nie. As Maroela wil skryf oor elke sterfgeval oralin die wye wêreld dan gaan ons baie lees. Ons wil meer hoor oor VSA en Brexit en waar die VSA se vliegdekskepe tans is…..nie oor Madagaskar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.