16,8 miljoen Amerikaners reeds werkloos weens korona-pandemie

Throgs Neck Bridge by Little Bay Park in Queens, New York (8 April 2020) (Foto: AP Photo/Frank Franklin II)

Minstens 16,8 miljoen Amerikaners eis reeds werkloosheid weens die koronavirus-uitbreking wat ekonomieë wêreldwyd tot byna stilstand gedwing het.

Altesaam 6,6 miljoen Amerikaanse werkers het verlede week aansoek gedoen vir werkloosheidsvoordele, ná 10 miljoen werkers in die vorige twee weke aansoek gedoen het. Dit beteken dat 1 uit elke 10 Amerikaanse werkers hul werk verloor het sedert die krisis in die land begin het.

Die werklike syfer is waarskynlik hoër aangesien werkloosheidseise die staatsdiens oorweldig het en sekere werkers nog nie telefonies of deur die webwerf geholpe kon raak nie. Nog werksverliese word voorspel.

Die Amerikaanse werkloosheidskoers kan moontlik 15% haal – ʼn statistiek wat laas aan die einde van die Depressie gesien is.

Die Federale Reserwebank het intussen sowat $2,3 biljoen (“trillion”) in lenings toegestaan om die ekonomie te ondersteun. Die geld sal aangewend word vir Amerikaanse huishoudings en ondernemings en plaaslike regerings wat deur die pandemie lamgelê word.

Die VSA het meer as 430 000 bevestigde gevalle van Covid-19 met ongeveer 15 000 sterftes. Meeste van die gevalle is in New York aangemeld.

Die getal Covid-19-gevalle wêreldwyd staan op ongeveer 1,5 miljoen met nagenoeg 90 000 sterftes, aldus Johns Hopkins-universiteit. Meer as 330 000 persone het reeds herstel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.