Minstens 17 persone is Dinsdag dood en meer as 30 is beseer toe ʼn wipbakvragmotor 100 meter ver in ʼn ravyn in die bergagtige deel van Peru neergestort het.
Die slagoffers sluit leerlinge, onderwysers en ouers in wat op ʼn uitstappie was om die herdenking van die provinsie te vier, het Ruben Alva, goewerneur van Huanuco, gesê. “In afgeleë dele reis mense op verskillende maniere, maar nêrens in die wêreld is dit normaal om mense agterin ʼn wipbakvragmotor te vervoer nie,” het Alva aan die plaaslike radiostasie, RPP, gesê.
Meeste van die beseerde slagoffers is jonger as 15, het owerhede gesê.
Die bestuurder het die ongeluk oorleef en word aangehou vir ondervraging.