$17 miljoen vir Weinstein-slagoffers

Harvey Weinstein in die hof (Foto: Jefferson Siegel/New York Daily News via AP, Pool)

ʼn Amerikaanse bankrotskapregter het ʼn uitbetaling van $17 miljoen (meer as R256 miljoen) goedgekeur aan dosyne vroue wat die voormalige rolprentvervaardiger Harvey Weinstein beskuldig het van seksuele aanranding.

Weinstein (68) is verlede jaar tot 23 jaar tronkstraf gevonnis ná hy skuldig bevind is op aanklag van verkragting en seksuele aanranding.

Delaware-regter Mary Walrath het Maandag die Weinstein Company se likwidasieplan goedgekeur. Sy het besware van verskeie van Weinstein se slagoffers, wat aanvoer dat die skikking hulle verhoed om verdere regseise in te stel, van die hand gewys.

Die geld sal tussen 37 vroue verdeel word, wat beteken dat hulle elkeen waarskynlik byna $460 000 (byna R7 miljoen) sal ontvang.

Prokureurs wat die slagoffers verteenwoordig het vroeër die voorgestelde skikking as “onvoldoende” verwerp. Agt beskuldigdes, wat die skikking verwerp het, sal later die voormalige Hollywood-magnaat kan dagvaar.

Weinstein is in Februarie 2020 skuldig bevind oop aanklag van ʼn seksuele oortreding in die eerste graad en verkragting in die derde graad in ʼn waterskeidingsuitspraak vir die #MeToo-beweging. Sy vonnis was die einde van ʼn merkwaardige ineenstorting vir die Pulp Fiction-vervaardiger wat daarvan beskuldig is dat hy oor die jare heen byna 90 vroue geteister het, waaronder Angelina Jolie en Salma Hayek.

Die Weinstein Company het in Maart 2018 bankrotskap verklaar ná ʼn stortvloed eise ingestroom het. Lantern Capital, wat later Spyglass Media Group herdoop is, het die bates van $289 miljoen aangeskaf.

Weinstein is in Los Angeles ook verhoorafwagtend op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding van vyf vroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie J

Hou jou goed tuis!

LeanetteS

Geld maak nie altyd reg wat krom is!!! Emosionele en trauma skade bly daar vir altyd!!