18 burgerlikes sterf in Oekraïense lugaanval

Die winkelsentrum in die stad Kremenchuk is heeltemal verwoes. (Foto: STR/Ukraine emergency ministry press service/AFP)

ʼn Russiese lugaanval op ʼn winkelsentrum in die Oekraïense stad Kremenchuk het die lewe van minstens 18 mense geëis en talle ander is beseer. Die missielaanval is glo tydens die winkelsentrum se besigste tyd uitgevoer en volgens Oekraïense amptenare was die sentrum stampvol.

Rusland sê egter die missiele het ʼn nabygeleë wapenaanleg getref en dat die winkelsentrum, wat volgens hom ongebruik was, toe aan die brand geslaan het.

Leiers van die G7-beraad in Duitsland het nietemin reeds die voorval as ʼn oorlogsmisdaad bestempel en onderneem om die Russiese president, Wladimir Poetin, te laat boet hiervoor.

Die Oekraïense lugmag het Dinsdag gesê dat ʼn winkelsentrum in die stad die vorige dag deur missiele getref is, wat deur Tu-22-bomwerpers in die weste van Rusland se Koersk-streek afgevuur is.

“Die missiele het ʼn bedrywige gebied getref wat geen verband het met die konflik nie,” het Vitali Maletsky, burgermeester van die stad, gesê.

Rusland het egter teruggekap en gesê die missiele het nooit die betrokke winkelsentrum getref nie.

“Die missielaanval het ʼn aanleg met wapens en ammunisie wat van die VSA en ander Europese lande kom, getref. Die aanleg was in die omgewing van ʼn motorfabriek in Kremenchuk,” het die Russiese weermag in ʼn verklaring gesê.

“Die Westerse ammunisie en wapens het weens die aanval ontplof en ʼn brand by die nabygeleë winkelsentrum laat ontstaan.”

Rusland hou vol dat die winkelsentrum nie tydens die aanval in gebruik was nie.

Volgens Sergiy Kruk, nooddienshoof van Oekraïne, is daar egter ʼn aantal sterftes by ʼn winkelsentrum in hierdie stad aangeteken. Benewens die oorledenes is nog 59 mense beseer, waarvan 25 gehospitaliseer is.

“Ons hooffokus is op reddingspogings, rommelverwydering en om al die brande te blus,” het hy gesê.

“Ek wil weer benadruk dat burgers nie lugaanvalwaarskuwings moet ignoreer nie.”

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het vroeër gesê dat daar meer as 1 000 mense in die betrokke winkelsentrum was toe dit na bewering gebombardeer is.

“Dié Russiese aanval is een van die mees brutale terreurdade in die Europese geskiedenis,” het hy gesê.

ʼn Video wat Zelenski glo gedeel het, wys hoe die winkelsentrum deur vlamme verswelg is, met talle reddingswerkers en brandbestryders wat die chaos omsingel.

Die land se nooddienste het ook beelde gedeel wat wys hoe brandbestryders en reddingswerkers probeer om rommel uit die oorblyfsels van die gebou te verwyder.

Die Oekraïense ministerie van verdediging het boonop gesê die lugaanval is doelbewus geloods op ʼn tyd toe die winkelsentrum op sy besigste was sodat dit die grootste impak kan hê.

(Foto: STR/Ukraine emergency ministry press service/AFP)

(Foto: STR/Ukraine emergency ministry press service/AFP)

In ʼn afsonderlike voorval op dieselfde dag het minstens agt burgers van die stad Lysychansk in ʼn aanval deur Russiese vuurpyle gesterf terwyl hulle besig was om water te gaan haal.

Lysychansk het die fokus geword van hewige Russiese aanvalle ná die val van sy tweelingstad, Severodonetsk.

“Ons soldate probeer die stad nog behou, maar die Russe verander alles in puin. Die infrastruktuur is heeltemal vernietig,” het Sergiy Gaiday, goewerneur van die Lugansk-streek, gesê.

ʼn Missiel het ook vroeg Sondagoggend ʼn woonbuurt in die Oekraïense hoofstad Kiëf getref nadat dié stad vir weke lank in vrede gelaat is. Een inwoner van ʼn woongebou in die Shevchenkivsky-woonbuurt is dood, terwyl talle ander erg beseer is.

Rusland het ná die aanval erken dat hy ʼn wapenfabriek in die gebied geteiken het.

Internasionale woede

Die vlae van die G7-lande. (Foto: Kerstin Joensson/AFP)

Die leiers van die G7-beraad het in ʼn verklaring die jongste aanval op Oekraïne as ʼn oorlogsmisdaad veroordeel. Die leiers het onderneem om Poetin en diegene wat verantwoordelik was vir hierdie aanval, aanspreeklik te hou.

“Onoordeelkundige aanvalle op onskuldige burgers is in effek ʼn oorlogsmisdaad,” het hulle gesê.

Die Britse premier, Boris Johnson, het ook tydens die G7-beraad gesê die Kremenchuk-aanval demonstreer die “dieptes van [Poetin se] wreedheid en barbaarsheid”.

Antony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het gesê hy is met “afgryse vervul oor die betreurenswaardige voorval”.

Die Franse president Emmanuel Macron het ook die aanval as ʼn “gruwel” veroordeel.

Pres. Joe Biden van die VSA en sy eweknieë van die ryk G7-lande poog nou om Moskou se ekonomie nog verder onder druk te plaas. Dit terwyl stygende energie- en voedselpryse wêreldwye inflasie opjaag.

“Ons sal voortgaan om finansiële, humanitêre, militêre en diplomatiese ondersteuning aan Oekraïne te verskaf en hom by te staan vir so lank as wat dit nodig is,” het die G7 in ʼn verklaring op die tweede dag van die beraad gesê.

Zelenski, wat die leiers toegespreek het, het hulle aangemoedig om hul sanksies teen Rusland te verskerp sodat die oorlog voor die komende winter beëindig kan word.

“Ons sal ook voortgaan om druk op Poetin te verhoog,” het Olaf Scholz, Duitse kanselier en gasheer van die beraad, in reaksie op Zelenski se pleidooi gesê. “Hierdie oorlog moet tot ʼn einde kom.”

G7-leiers is reeds in gesprek oor ʼn pryslimiet op Russiese olie-invoere en sanksies wat Rusland se verdedigingsektor teiken. Europese amptenare is egter bekommerd oor die implementering hiervan.

Om te help om stygende pryse te verlaag het Frankryk olieproduserende lande aangemoedig om hul uitset op ʼn “uitsonderlike wyse” te verhoog. Macron het ook ʼn terugkeer na die mark van ruolie van Iran en Venezuela gesteun. Amerikaanse sanksies word tans op albei hierdie lande toegepas.

Die G7 het boonop Sondag sy planne aangekondig om die invoer van Russiese goud te stop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Althes ·

Ek wens en bid die oorlog moet ophou. Daar is geen wenners nie.

Roebs ·

Kan nie dink dat in ons tyd is daar nog oorlog nie mense het nog nie geleer nie.

Fred ·

As julle na al die videos en fotos gaan kyk sal julle sien die gebou was leeg voor die brand, geen voertuie in die ‘parking lot’, geen trollies, geen ambulanse, geen vrouens of kinders, net mans wat toe kyk, Op van die fotos is dit duidelik dat van die winkels “boarded up” was. Hier is weer n slang in die gras.

Manie ·

Die VSA en hul hoofstroom media en intelligensie netwerke bedrieg die wêreld met hope vals inligting.

CJH ·

Geen vroue of kinders in die prentjies nie? … min karre in die parkeer area gereken die plek was stampvol? … nie ‘n enkele windskerm gekraak nie? … nie ‘n enkele burgerlike selfie of video van die ervaring soos altyd binne die sentrum nie? … en die Weste se media glo daar is oorgenoeg forensiese bewyse om President Putin aan oorlogsmisdaad skuldig te vind? … intussen word Lavitrania leeg gespoel as die enigste rede vir die armoede en honger in die gisig gestaar van die Weste …

Eden ·

Vragie: hoekom is winkelsentrums stampvol tydens ‘n oorlog? Waar kry die winkels voorraad as die hele land gebombardeer word? Waar kry mense geld om te spandeer tydens die oorlog? Of gaan mense maar soos altyd werk toe en mall toe? Iets is nie lekker met hierdie oorlog nie.

Nettie ·

Die land is yslik groot. Die Westerse helfte gaan basies normaal voort, en boere boer en oes en verkoop nogsteeds voedsel. Fabrieke verwerk en verskaf aan supermarkte, en mense gaan winkels toe.

Kyk na Oekraieniese mense in Kiev se video’s op Youtube. In die Ooste van die land woed die oorlog en is daar op sommige plekke geen kos meer nie.

In party stede en dorpe begin hulle weer herbou en normaal leef, NA Rusland deur die dorp of stad was en vernietig het wat hulle wou, en daarna onttrek het.

Nettie ·

Die Bybel se die Beer word aangese om te vreet “soveel hy wil”. Siende dat hy die Weste haat, voorspel dit niks goeds vir die wereld in geheel nie.

Andre ·

Terwyl die weste die wêreld vernietig? Ek hoop nie gou nie.

Klein Karoo Loper ·

Niks kan geglo word wat die Zelenski akteur en sy makkers beweer nie. Hierdie oorlog kom al jare terug en Putin het dit nie begin nie. Ons glo lankal nie meer al die leuens van die media nie.

Nettie ·

Dis waar, maar die Bybel praat ook niks goeds van die Beer of die vernietiger van lande en stede en aarde nie. Ons moet versigtig wees om Putin nie te verontskuldig nie. Beide Nato en Rusland is skuldig en sal voor God eendag verantwoording moet doen.

Thom ·

Wie het dan die oorlog begin ? Wie se soldate is in watter land ? Antwoord net reguit aub __ nie julle verdraaide pro-poetin retoriek nie !

Andre ·

Hoelank waarsku Putin al? Net reguit antwoorde asb, nie die verdraaide eensydige westerse snert nie.

Klein Karoo Loper ·

Mense kom laat van die werk af, kyk gou nuus en dan wil hulle nou kommentaar lewer. Gaan doen jou huiswerk Thom.

Kobus ·

@loper, Nog n Putin volgeling, Putin het nie oorlog begin nie, sy weermag het net toevallig Oekraïne binnegeval en n land verwoes, seker verdwaal op hulle spesiale sending om n ander land te bevry van die Nazis…. Watter huiswerk het jy gedoen, net na RG geluister…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.