2 000 jaar oue Bybelse rol ontdek

‘n Stukkie van die Dooie See-rolle wat meer as 60 jaar gelede ontdek is. Die nuutste vonds word as die grootste sedert die ontdekking van hierdie rolle bestempel. (Argieffoto: Menahem Kahana/AFP)

Stukkies van ʼn Bybelse rol wat sowat 2 000 jaar oud is – en wat bestempel word as een van die mees noemenswaardige vondste sedert die ontdekking van die Dooie See-rolle – is deur Israelse argeoloë gevind.

“Vir die eerste keer in nagenoeg 60 jaar het argeologiese opgrawings stukke van ʼn Bybelse rol opgelewer,” het die Israelse oudhedeowerheid (IAA) gesê.

Die owerheid sê ná jare lange uitgrawings in grotte en klowe aan die Judese see het hy ook ʼn klomp skaars munte, die geraamte van ʼn kind wat sowat ses millenniums oud is, asook ʼn mandjie wat sowat 10 000 jaar oud is, ontdek. Die mandjie word bestempel as die oudste ter wêreld.

Die vondste is die gevolg van ʼn opmeting wat oor ʼn gebied van 80 km oor die klowe van die woestyn tussen die suide van Israel en die Wesoewer gedoen is.

Deur die gebruik van hommeltuie, bergklim- en abseiltoerusting het Israelse argeoloë die grotte deursoek wat volgens hulle gebruik is deur Jode wat in die mislukte Bar Kochba-opstand teen die Romeine gerebelleer het.

Die stukkies van die rol sluit Griekse gedeeltes uit die Boek  van die Twaalf Klein Profete in, het die IAA gesê. Dit vorm deel van die Hebreeuse Bybel.

Een gedeelte uit die boek van Sagaria lui: Dít is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ʼn regspraak van vrede in julle poorte.”

Hoewel die grootste gedeelte van die teks in Grieks is, verskyn die naam van God in antieke Hebreeuse teks, sê die IAA.

Israelse argeologiese uitgrawings in besette Palestynse grondgebied het al tot groot omstredenheid gelei en die Palestynse departement van toerisme en oudhede het nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Die IAA het saam met die weermagafdeling verantwoordelik vir burgerlike sake in die Palestynse grondgebied (COGAT) aan die projek gewerk.

Yoli Shwartz, ʼn woordvoerder van COGAT, sê dít is een van die mees beduidende ontdekkings van Bybelse teks sedert die Dooie See-rolle. Dié rolle sluit sowat 900 manuskripte in wat tussen 1947 en 1956 in die Qumran-grotte by die Dooie See aan die Wesoewer gevind is.

Israel Hasson, direkteur van die IAA, sê die opmetings is gedoen nadat stropers die grotte begin binnesluip het. Hy het gevra vir meer hulpbronne om die projek, wat tot dusver net sowat die helfte van die klowe in die woestyn gedek het, voort te sit.

“Ons moet verseker dat ons al die data wat nog nie in die grotte versamel is nie, herwin voordat die rowers dit doen,” het Hasson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Die Goodwoodianer ·

Dit is baie interessant. Dit is net ñ jammerte dat baie mense in die wêreld vandag se siele só korrup en ateïsties van aard is dat hulle nogtans God se bestaan sal aanhou ontken. Hulle sal wel uiteindelik EENDAG besef maar teen daardie tyd is dit dalk te laat? Ek sal nie weet nie.

Hierdie tipe nuusberigte is altyd vir my ñ herbevestiging. Nie dat dit nodig is om te herbevestig nie maar dan eerder ñ herinnering aan ñ wêreld blind.

Maggies ·

Ek is so dankbaar dat daar mense is wat genoeg omgee vir ons geloof, sodat hulle geld en tyd spandeer om sulke kosbare artikels te soek.

Thom ·

Ek is netso dankbaar . Dit bevestig onteenseglik dat alles rondom die bybel op mites en fabels gebaseer is . Die oudste bewese menslike skedel is 2 , 75 miljoen jaar oud maar die geklets rondom die bybel en die sg skepping beperk die ouderdom van die mensdom tot ongeveer 6000 jaar ; nogal ‘n massiewe verskil .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.