‘2 000 tumor’-man gevonnis wat skenkers bedrieg

Paco Sanz (Foto: De Cedecejj – Trabajo propio via Wikimedia Commons)

ʼn Spanjaard, bekend as “die man met 2 000 kankergewasse”, wat gelieg het daaroor dat hy terminale kanker het, is Maandag tot twee jaar tronkstraf gevonnis omdat hy duisende persone uit donasies bedrieg het, insluitend bekende persone.

Paco Sanz (50) het tussen 2010 en 2017 gereeld op die televisie en sosiale media verskyn, en aangevoer hy het nagenoeg 2 000 kankergewasse weens Cowden-sindroom.

Hy het gesê hy het slegs ʼn paar maande oor om te leef en deur sy webwerf, teksboodskappe en selfs ʼn liefdadigheidsgala gepleit vir donasies.

Alhoewel hy wel aan die sindroom ly, is al sy gewasse niekwaadaardig en hou geen gevaar in vir sy lewe nie.

Staatsaanklaers sê die voormalige sekuriteitsbeampte het net minder as €265 000 (sowat R4,7 miljoen) ingesamel voor hy in Maart 2017 in die Valencia-streek in hegtenis geneem is.

Van die persone wat vir hom geld gestuur het, sluit die gewilde televisieaanbieder Jorge Javier Vazquez en die Spaanse sokkerspeler Alvaro Negredo in.

Staatsaanklaers het Sanz daarvan beskuldig dat hy “voordeel getrek het uit sy siekte” om “onwettig finansiering te bekom”. Hulle sê hy het beweer hy is “baie sieker as wat hy eintlik was” en dat hy valslik beweer het hy kan slegs gered word as hy eksperimentele behandeling in die VSA ondergaan.

In werklikheid het hy na die VSA gereis om aan ʼn gratis kliniese proef deel te neem en “al sy kostes is deur die betrokke maatskappy gedek, het staatsaanklaers bygevoeg.

In ʼn video wat Spaanse media in die tyd van sy inhegtenisneming bekom het, kan mens sien hoe Sanz saam met sy meisie en familielede lag oor die leuens wat hy vertel.

Sanz se hofsaak het Maandag in Madrid begin en hy het skuld beken op aanklag van bedrog. Hy is tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Sy meisie is tot een jaar en nege maande tronkstraf gevonnis omdat sy sy medepligtige was. Hulle sal egter waarskynlik nie tyd agter tralies deurbring nie, aangesien vonnisse minder as twee jaar gewoonlik in Spanje opgeskort word vir eerste-oortreders wat skuldig bevind word op niegewelddadige misdade.

Die hofsaak duur voort sodat die hof kan bepaal hoeveel geld die twee as skadevergoeding moet terugbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Plaaskind ·

Baie lelik om iemand anders se goedhartigheid so te misbruik. Mag hy elke sent terug betaal en swaar gestraf word. Sies man.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.