2 288 ebola-sterftes; helfte van sterftes afgelope paar dae

Mediese personeel van Dokters Sonder Grense neem kos na pasiënte by die organisasie se behandelingsentrum in Kailahun, Sierra Leone (20 Julie 2014) Foto: Tommy Trenchard, Reuters (via blogs.wsj.com)

Mediese personeel van Dokters Sonder Grense neem kos na pasiënte by die organisasie se behandelingsentrum in Kailahun, Sierra Leone (20 Julie 2014) Foto: Tommy Trenchard, Reuters (via blogs.wsj.com)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Dinsdag gesê die ebola-virus het reeds bykans 2 300 lewens geëis, en nagenoeg die helfte van dié sterftes het in minder as ʼn maand plaasgevind.

Teen 6 September het 2 288 mense uit 4 269 gevalle reeds in Guinee, Sierra Leone en Liberië gesterf, het die VN se gesondheidsagentskap gesê. Altesaam 47% van sterftes en 49% van die gevalle is die afgelope 21 dae aangemeld.

Dit is die wêreld se armste lande wat die swaarste onder die uitbreking gebuk gaan en die vervalle mediese infrastruktuur in dié lande sukkel om die druk te hanteer. Liberië word die ergste hierdeur geraak en 1 224 sterftes is reeds in dié land aangemeld, waarvan 62% sedert middel Augustus.

Die WGO het Maandag gewaarsku dat Liberië moontlik “duisende” nuwe gevalle binne die volgende drie weke sal aanmeld.

Guinee het reeds 555 sterftes aangemeld en 509 sterfgevalle is in Sierra Leone aangemeld. Agt mense het in Nigerië gesterf en een geval is in Senegal aangemeld.

Die DRK stry intussen teen ʼn ander stam van die ebola-virus. Altesaam 32 mense is reeds dood en 59 gevalle van besmetting is aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.