2 gevonnis vir hul aandeel in Kenia-bloedbad

Hussein Hassan Mustafah, Liban Abdullah Omar en Mohamed Ahmed Abdi vroeër in die hof in Kenia. Omar is intussen vrygespreek. (Foto: AP Photo/Brian Inganga)

Twee mans is Vrydag in ’n hof in Kenia gevonnis vir hul aandeel in die militante groep Al-Shabaab se destydse aanval op die Westgate-winkelsentrum in Nairobi.

Altesaam 67 mense is in September 2013 dood toe vier verdagtes op klante in dié winkelsentrum losgebrand het. Die terreuraanval het destyds tot ’n beleg van vier dae gelei.

Die vier aanvallers is destyds ook in die aanval dood.

Hussein Hassan Mustafah en Mohamed Ahmed Abdi is egter in Oktober skuldig bevind op aanklagte dat hulle Al-Shabaab destyds gehelp het om die aanval uit te voer.

Mustafah en Abdi is elkeen Vrydag tot 18 jaar tronkstraf gevonnis op elk van twee aanklagte wat ingevolge ‘n nasionale terreurvoorkomingswet teen hulle gebring is. Dit sal gelyklopend uitgedien word.

Abdi is ook ’n verdere 15 jaar tronkstraf opgelê vir die besit van materiaal wat terrorisme bevorder.

Die sewe jaar wat Mustafah en Abdi sedert die aanval reeds in aanhouding deurgebring het, sal van hul vonnisse afgetrek word.

Hooflanddros Francis Andayi het verder gesê die twee mans mag appèl aanteken teen die vonnisse.

Andayi het vroeër bevind hoewel daar geen spesifieke bewyse is dat Mustafah en Abdi die aanvallers wesenlik ondersteun het nie, was daar voortdurende kommunikasie met die aanvallers.

“Die patroon van hul kommunikasie wys dat hulle nie net vriende was met die aanvallers nie,” het Andayi gedurende uitspraak gesê.

Maroela Media het vroeër berig Al-Shabaab het kort ná die aanval erken dat hulle verantwoordelik was vir die aanval wat sedertdien as die Westgate-bloedbad bekend staan. Die militante het daarna met nóg aanvalle gedreig indien Kenia destyds nie dadelik hul troepe aan Somalië onttrek nie.

Keniaanse magte het twee jaar vantevore die suidelike dele van Somalië ingeval om Somaliese magte te ondersteun en Al-Shabaab-basisse aan te val. Die Keniane het later by die Afrika-Unie-troepe aangesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Derek

Dit is wat godsdiens doen aan mense, die vryheid van godsdiens die euwel van die wereld soos Daniel dit voorspel het. Suid Afrika n goeie voorbeeld hiervan, totaal verval in n staat van krimenele beheer deur sindikate. Totale chaos en so leef ons saam met die blindes, dowes en stommes.