2 vas oor gyselaarsdrama in Texas

Die sinagoge in Colleyville, Texas, waar die gyselaarsdrama hom afgespeel het. (Foto: Emil Lippe / Getty Images via AFP)

Twee mans is Donderdag in hegtenis geneem in verband met hul beweerde aandeel in die naweek se gyselaarsdrama in die Amerikaanse deelstaat Texas.

Die mans is vroeër vanoggend onderskeidelik in Birmingham en Manchester in Engeland in hegtenis geneem en word tans deur Brittanje se teenterreurpolisie in aanhouding ondervra.

Dié inhegtenisnemings volg dae nadat Malik Faisal Akram van Blackburn in Engeland Saterdag vier mense vir langer as tien uur by ʼn sinagoge in Texas as gyselaars aangehou het.

Luidens berigte het Akram (44) die vrylating van die veroordeelde terroris Aafia Siddiqui, ʼn Pakistanse neurowetenskaplike bekend as “Lady Al-Qaeda”, geëis.

Polisiebeamptes het die sinagoge Saterdagaand binnegedring en Akram doodgeskiet. Die vier gyselaars, onder wie ʼn rabbi, is ná die voorval bevry en ongedeerd.

Twee tieners is Sondag deur die Britse teenterreurpolisie in Manchester in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hulle is egter nie aangekla nie en die volgende dag weer vrygelaat.

Maroela Media het vroeër berig Akram was vermoedelik ’n djihadistiese verdagte. Die Britse intelligensiedienste het hom sedert einde 2020 dopgehou toe hy na die VSA verhuis het.

Die ondersoek is egter ná meer as ʼn maand gestaak weens ʼn gebrek aan bewyse teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Dit sukkel maar. Daar is meer as 40 000 mense op hulle dophou-lysie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.