20 dood, 40 beseer toe trein ontplof

Mense drom saam buite die Ramses-treinstasie in Kaïro, Egipte [27 Februarie 2019]. (Foto: Nariman El-Mofty/AP)

Minstens 20 mense is dood en 40 ander beseer toe ʼn trein Woensdagoggend teen ʼn platform by ʼn stasie in Kaïro, Egipte, gebots en die trein se brandstoftenk ontplof het.

Die plaaslike openbare uitsaaier Al-ahram berig die land se departement van gesondheid het die jongste dodetal bevestig.

Die tragedie het by die Ramses-stasie afgespeel, een van die besigste treinstasies in Egipte. Die oorsaak van die botsing is nog nie bekend nie.

Talle ambulanse en brandweerwaens het ná die ontploffing na die stasie gehaas.

Foto’s en video’s van die toneel toon hoe swart rookwolke by die stasie uitborrel met talle liggame wat op die platform gesien kan word.

Mina Ghaly, ʼn ooggetuie, het aan Reuters gesê sy het op die platform gestaan toe sy gesien het hoe die trein in ʼn versperring vas jaag. “Almal het begin hardloop, maar ʼn klomp mense is dood toe die lokomotief ontplof het.”

BBC berig Egipte se treinstelsel het ʼn baie swak veiligheidsrekord wat kritici meen die gevolg is van ʼn gebrek aan belegging deur die regering en algehele wanbestuur.

Volgens BBC is 43 mense dood en 100 beseer toe twee passasierstreine in Augustus 2017 buite Alexandria gebots het. In 2002 is 370 mense dood toe ʼn brand naby Kaïro deur ʼn oorvol trein gewoed het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.