20 vas ná aanval op Ugandese skool

Families het hul geliefdes Sondag in Uganda begrawe ná ʼn grusame slagting wat die lewe van 41 mense, van wie die meeste kinders, geëis het. (Foto: Stuart Tibaweswa / AFP)

Die hoofonderwyser en direkteur van die Lhubiriha Secondary School in Mpondwe, Uganda, is onder die 20 verdagtes wat in hegtenis geneem is vir hul betrokkenheid by ’n dodelike aanval by dié skool.

Die Allied Democratic Forces (ADF), ʼn milisiegroep met bande met die Islamitiese Staat (IS), het glo Vrydagaand 42 mense, onder wie 37 leerders en vyf personeellede by dié skool met kapmesse doodgekap, hulle dood geskiet of doodgebrand.

Volgens Fred Enanga, polisiewoordvoerder, het die 20 verdagtes wat in hegtenis geneem is vermoedelik saam met die ADF gewerk.

Die owerhede in Uganda soek tans na die res van die aanvallers wat met ʼn groep ontvoerde mense in die rigting van die grens gevlug het.

Die oudste slagoffer was ’n 95-jarige vrou en die jongste is ’n 12-jarige meisie.

Volgens Enanga is ses mense tydens die aanval beseer. Hulle ontvang tans hospitaalbehandeling. Tussen vyf en sewe leerders is vermoedelik deur die aanvallers ontvoer, terwyl minstens 15 mense, onder wie vyf jong meisies, nog vermis word.

“’n Aanval op onskuldige kinders is barbaars en onmenslik,” sê Enanga.

“Uganda sal nie terrorisme duld nie. Maak nie saak hoe gruwelik die aanval is of hoe wreed of onmenslik die metodes wat gebruik word nie, die ADF sal nie die solidariteit van Ugandese in die stryd teen terreur en ekstremisme vernietig nie.”

Talle gebroke families het hul geliefdes Sondag in die weste van Uganda begrawe.

Families het ná die voorval na die plaaslike hospitaal gestroom en in die koue buite ʼn lykshuis naby Bwera op nuus oor hul geliefdes gewag. Dié wat hul geliefdes kon uitken, het gehuil terwyl hul liggame in kiste weggeneem is.

Sommige van die families wag nog vir DNS-uitslae van geliefdes wat onherkenbaar verkool het en nie aan hul oorskot uitgeken kan word nie.

Talle leerders is dood, beseer of ontvoer. (Foto: AFP)

Die aanval word as die ergste in meer as ʼn dekade in Uganda beskryf.

Aanvalle in Uganda is skaars en dit is onduidelik hoe die aanvallers die grens oënskynlik ongesiens kon oorsteek, aangesien daar ʼn groot militêre teenwoordigheid gehandhaaf word.

Die ADF, ʼn gewapende groep wat histories verbind word aan hoofsaaklik Islamitiese Ugandese rebelle wat teen pres. Yoweri Museveni gekant is, word sedert die 1990’s vir duisende burgerlike sterftes in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) geblameer.

In Junie 1998 is 80 leerders in hul koshuis deur lede van die ADF aangeval en doodgebrand en 100 leerders is ontvoer.

In ʼn verslag wat na verwagting vandeesweek bekend gemaak sal word, het kundiges van die Verenigde Nasies (VN) gesê die IS-groep het waarskynlik al sedert 2019 finansiële steun aan die ADF verskaf.

Die IS beskryf die ADF as sy streeksfiliaal, die Islamitiese Staat Sentraal-Afrika Provinsie (ISCAP).

In Maart 2021 het die Verenigde State die ADF op sy lys van “terreurgroepe” wat met IS geaffilieer is, geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nettie ·

Wat is ‘n “hoofonderwyser”? Is dit soos ‘n skoolhoof?
Mens kan nie glo enige van die onderwysers was betrokke nie! Hoe siek kan jy wees? Dis KINDERS! Onskuldig aan enige van die politieke of geloofskwessies. Arme, arme families. Mag God hulle almal dra hierdeur. En mag die vermiste en ontvoerdes vinnig opgespoor word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.