200 babas dood weens swak gesondheidsorg – verslag

Argieffoto. (Foto: Elaine Krige)

Die Britse regering het Woensdag om verskoning gevra ná ’n verslag oor Brittanje se grootste kraamskandaal bekendgemaak is.

Die verslag bevat ’n katalogus van herhaalde kraammislukkings wat oor ʼn tydperk van 20 jaar – van 2000 tot 2019 – by die Shrewsbury- en Telford-hospitaalgroep plaasgevind het. Dié groep bedryf verskeie hospitale in Shropshire en Sentraal-Engeland.

Luidens dié verslag kon meer as 200 babas oorleef het as hulle beter sorg tydens geboorte gekry het. Die babas is óf doodgebore, het kort ná geboorte gesterf óf is met ernstige breinskade gelaat.

Die verslag het uiteengesit hoe sommige babas skedelfrakture, gebreekte bene of serebrale gestremdheid opgedoen het ná traumatiese bevallings. Ander pasgeborenes het nie genoeg suurstof gekry nie en het lewensveranderende breinbeserings ervaar.

Die verslag het ook onthul dat nege uit die 12 moeders wat gedurende die tydperk gesterf het, “aansienlik” beter behandeling kon ontvang het. Die ander het natuurlik geboorte geskenk, terwyl hulle eintlik ’n keisersnee moes ondergaan.

Die verslag volg op ’n ondersoek wat in 2017 gelas is ná kommer ontstaan het oor die hoë koerse van neonatale sterftes by die hospitaalgroep.

Sajid Javid, sekretaris van gesondheid, het reeds die gesinne wat deur dié skandaal geraak is, om verskoning gevra.

Javid en die hospitaalgroep het onderneem om die verslag se tientalle aanbevelings te implementeer, met die erkenning dat die sorg wat gebied is, nie aan standaarde voldoen het nie.

Hy het beloof dat diegene wat verantwoordelik is vir “ernstige en herhaalde mislukkings” tot verantwoording geroep sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

casper ·

Aagh net nog ‘n Life Esedimedi — Niemand gee om of word vervolg nie !!!

Christine ·

Ek sal graag wil sien van waar die verpleegkundiges is wat die kindertjies laat omkom het. Baie van our people het mos geimmigreer UK toe vir verpleegposte. Geen etiek, of empatie of die respek vir jou eed wat jy afgelê het nie.

Jacques ·

“Luidens dié verslag kon meer as 200 babas oorleef het as hulle beter sorg tydens geboorte gekry het. Die babas is óf doodgebore, het kort ná geboorte gesterf óf is met ernstige breinbeskadig gelaat.”

Behoort die laaste gedeelte van die sin nie te lees:
“…óf is met ernstige breinskade gelaat”?

Megan Swart ·

Dagsê Jacques
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Nico ·

Hoekom kan Brittanje ook nie verskoning vra die onskuldige lewens wat Brittanje geneem met die moordkampe. Vrouens kinders het nie gevra daarvoor nie, dit was ‘n lafhartige aanval op boere plase.

Chris ·

Dan poog die regering ook om met verandering van berekenings die 2de plek in die wereld te win met betrekking to Covid sterftes – net nog ‘n bewys dat dit nie die siektes is wat die sterfte-syfers opstoot nie, maar die gevaalde departement van gesondheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.