200 sterf in vloede, modderstortings in Filippyne

Inwoners help om vloedslagoffers te red in Lanao del Norte, Filippyne (22 Desember 2017) Foto: Sosiale Media/Reuters

Minstens 200 persone is dood in kitsvloede en modderstortings tydens die tropiese storm Tembin wat die suide van Filippyne in die dae voor Kersfees getref het.

Minstens 127 persone is dood en 69 word vermis in die Lanao del Norte-provinsie, het die polisie en rampbestuurbeamptes gesê. Altesaam 47 persone is dood in Zamboanga del Norte, 18 in Lanao del Sur en agt in Bukidnon, Misamis en Iligan.

Tembin het die streek Vrydag getref en meer as 75 000 is haweloos gelaat. Die storm het die westelike provinsie Palawan Saterdag getref met winde van 105 km/h en rukwinde van tot 145 km/h, aldus die weerburo.

Noodspanne is ontplooi om soek- en reddingsbedrywighede in die betrokke gemeenskappe te doen, maar talle paaie is onbegaanbaar weens die modderstortings en oorstromings.

Minstens 100 huise is verwoes toe kitsvloede Sibuco in Zambaonga del Norte getref het. “Selfs klapperbome is ontwortel, so mens kan ʼn idee kry van die krag van die vloede,” het Luis Ochotorena, streeksdirekteur van siviele verdediging, aan Manila-radio DZMM gesê. “Ons is verras oor die omvang van die skade.”

Harry Roque, woordvoerder van die president, het die betrokke provinsies verseker dat hulle bystand van die nasionale regering sal ontvang.

Tembin, wat teen 23 km/h beweeg, sal na verwagting teen Oukersaand die Filippyne verlaat, het die weerburo bygevoeg.

Altesaam 54 persone is verlede week dood in modderstortings, kitsvloede en ander ongelukke weens tropiese storm Kai-Tak, wat sentraal-Filippyne getref het.

ʼn Gemiddeld van 20 tifone tref die Filippyne jaarliks. Meer as 6 000 persone is in November 2013 dood en 1 000 vermis toe supertifoon Haiyan die land getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magteloos ·

So staan ons magteloos teen Moeder Natuur se aanslae op ons planeet. Die Filippyne het voorheen bestaan uit 7107 eilande. Met moderne tegnologie is ‘n verdere 534 bygevoeg en staan die totaal nou op 7641. Definisie van ‘n eiland is grond wat ook met hoogwater uitsteek en ten minste óf dierelewe óf plantlewe moet hê.
Hoe grondhonger raak ek nou . . . Met die onstuimige weer daar gaan my sinkplate egter nie werk. Ek gaan maar weer kyk na Nkandla met sy eie ‘Fire pool’.

Michelle ·

Siestog man. Dis verskriklik. My hart gaan uit na die mense in hul nood.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.