2014 beleef min sterk aardbewings

aardbewingHoewel Suid-Afrika in 2014 sy tweede sterkste aardbewing in die moderne geskiedenis beleef het, het die wêreld ’n baie stil jaar beleef wat baie sterk aardbewings betref.

In 2014 is slegs 11 aardbewings van 7 of sterker op die momentmagnitudeskaal gemeet. In 2013 was dit agtien. Slegs 2005 en 2006 het met tien sulke aardbewings elk, minder sterk aardbewings die afgelope dekade gemeet. 2010, met 21 aardbewings van M7 of meer, was die meeste die afgelope dekade, gevolg deur 2011 met 19.

Die sterkste aardbewing in 2014 wat M8,2 gemeet het op 1 April minder as 100 kilometer van Iquique in die noorde van Chili plaasgevind. Dit was byna ’n duisend keer sterker as Suid-Afrika se “grote” van M5,4 waarvan die episentrum in die Orkney-omgewing was. Hoewel die derde sterkste aardbewing van die jaar, een van M7,7, kort na die bielie van 8,2 ook naby Iquique plaasgevind het, meen wetenskaplikes dat die spanning in die verskuiwingsvlak nog nie volkome ontspan het nie, en steeds genoeg energie bevat vir nog een van meer as M8. Daar was die hele jaar naskokke, sommiges taamlik sterk.

Die tweede sterkste aardbewing, een van M7,9, het op 23 Junie op die Little Sitkin-eiland van Alaska plaasgevind.
Slegs een aardbewing in 2014 het tien of meer lewens geëis, en was ʼn skudding van M6,1 wat op 3 Augustus in die suidweste van China voorgekom het. Daar is nie noodwendig ’n verband tussen die sterkte van ʼn aardbewing en sterftes nie. Faktore soos of ’n tsunami gevolg het, rotsstortings wat huise en verkeer op paaie tref, die kwaliteit bouwerk en die diepte van die episentrum, asook die rotsformasies waarin dit voorkom speel ook ’n rol. Fratsongelukke eis ook lewens tydens aardbewings, soos ’n vrou wie se TV-stel op haar omgeval het.

Die feit dat daar vanjaar relatief min sterk aardbewings was, beteken nie dat daar ’n afname in die totale aantal aardbewings was nie. As die geringste trilling bygereken word, is daar meer as ’n miljoen aardbewings per jaar ter wêreld. ’n Relatief nuwe oorsaak van aardbewings is die proses van skaliegas-ontginning, in Engels bekend as “fracking” en wat ook vir olie-ontginning gebruik word. Oklahoma, en nie Kalifornië nie, was vanjaar loshande die Amerikaanse staat met die meeste aardbewings, gewoonlik klein. Die Oklahoma-aardbewings en trillings word aan die gas- en olie-ontginning in die gebied toegeskryf, hoewel baie geoloë ontken dat hierdie aardbewingswerms daarmee verband hou. In Nederland word aanvaar dat die voorkoms van aardbewings rondom Groningen met die ontginning van aardgas verband hou.

Die land wat waarskynlik die tweede semester deur die meeste aardbewings van M4,5 en sterker getref is, is Ysland, wat met vulkaanwerking verband hou. Min dae het verbygegaan wat nie minstens een so ’n aardbewing geregistreer is nie, en heel dikwels is twee of meer sulke aardbewings per dag geregistreer. Die Afrika-kontinent se laaste aardbewing van 2014 het op Oujaarsdag in die noorde van Malawi plaasgevind, en M5,1 gemeet. In die laaste kwartaal van die jaar het verskeie aardbewings oor die lengte van die Oos-Afrika-slenkdal plaasgevind.

• In hierdie berig is van die momentmagnitudeskaal gebruik gemaak omdat die Amerikaanse USGS wat aardbewings wêreldwyd meet, dié skaal gebruik. Die momentmagnitudeskaal is juis ontwerp om akkurate metings by groot verskuiwingsvlakke te kan neem waar die meeste groot aardbewings voorkom. Min lande gebruik nog die Richterskaal. Suid-Afrika werk met ’n aangepaste Richterskaal, en werk aan ’n nuwe een. Omdat die verskillende skale verskillende aspekte meet, kan dit nie na ander skale omgereken word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.