2021: Jaar van globale politieke verandering, Covid-2.0 en onsekerheid

(Foto: pixabay)

In talle opsigte is die afgelope jaar gekenmerk deur regerings se hantering van die voortslepende Covid-19-pandemie en die gesondheid-, ekonomiese en politieke gevolge van inperkings, inentings en internasionale reisbeperkings.

Die jaar is ook gekenmerk deur politieke veranderinge in die wêreld se grootste, derde grootste en vierde grootste ekonomieë (dié van diee VSA, Japan en Duitsland) met veral nuwe regerings in die VSA en Duitsland wat dié twee lande in ʼn nuwe rigting kan en wil neem. Die afgelope jaar was wêreldwyd ʼn jaar van groter onsekerheid oor die toekoms en groter politieke en ekonomiese onstuimigheid. Hier is ʼn opsomming van tien van die belangrikste internasionale nuusstories van 2021:

  1. Totsiens Trump en eerste 11 maande van die Biden-administrasie

Foto: Samuel Corum/Getty Images/AFP

Vroeg in 2021, op 6 Januarie, het geweld in die Amerikaanse hoofstad, Washington DC, uitgebreek toe ondersteuners van pres. Donald Trump, ná ʼn toespraak waarin hy hulle aangemoedig het om na die kongresgebou op te ruk, probeer het om die goedkeuring van verlede November se verkiesingsuitslae deur die kongres te verhoed. Terwyl duisende Trump-ondersteuners vreedsaam buite die kongresgebou betoog het, het etlike honderde betogers egter toegang tot die gebou gekry en het pandemonium uitgebreek.

Nadat die orde herstel is, kon die kongres voortgaan om die verkiesingsuitslag goed te keur. Op 20 Januarie het Trump en sy vrou, Melania, die Withuis verlaat terwyl Joe Biden en sy adjunk, Kamala Harris, ingehuldig is.

Die Demokrate in die kongres het sedertdien ʼn komitee saamgestel om die inval in die kongresgebou op 6 Januarie te ondersoek, en dié komitee is steeds besig met sy werksaamhede, met Republikeine wat toenemend sê dat die komitee se werk in ʼn heksejag teen Trump en die Republikeinse Party ontaard. Amerikaanse kiesers het ook intussen hulle belangstelling in die nadraai van die gebeure op 6 Januarie verloor.

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Biden het op 20 Januarie die Withuis binnegestap met ʼn ambisieuse agenda. Daarmee saam het die Demokrate beheer oor albei huise van die kongres gekry. Biden het onderneem om die pandemie vinnig onder beheer te kry, die ekonomie ʼn  groot hupstoot te gee, die VSA se posisie internasionaal te versterk en ʼn einde aan die oorlog in Afghanistan te maak. Tydens sy inhuldiging het hy ook onderneem om die erge verdeeldheid in die VSA tot ʼn einde te bring.

Min van Biden se planne het tot dusver geslaag, en sy goedkeuringsvlakke (persentasie kiesers wat met sy prestasie tevrede is) het sedert Januarie van sowat 60% na net meer as 40% gedaal. Die pandemie is steeds nie onder beheer nie en Biden se drakoniese inentingsmandate word tans in die howe getoets.

Terwyl die Amerikaanse ekonomie in 2021 sterk groei begin toon het, het inflasie, uitdagings met globale voorsieningskettings en tekorte aan sommige produkte tot heelwat frustrasie onder gewone Amerikaners gelei, met minder as ʼn derde van Amerikaners wat dink dat die land tans ekonomies op die regte pad is. Terwyl die lewenskoste in die VSA aanhou styg, is daar in sommige bedrywe groot arbeidstekorte terwyl daar steeds sowat agt miljoen werklose Amerikaners is wat een of ander vorm van welsynsgeld ontvang.

Pres. Joe Biden en sy adjunk, Kamala Harris. (Foto: Twitter)

Met ʼn konserwatiewe meerderheid in die Amerikaanse hooggeregshof word die linkse beleid van die Demokrate tans deur die howe getoets en word verwag dat die hoogste hof ʼn mate van balans in beslissings teen die Biden-administrasie kan bring.

Die jaar is afgesluit met ʼn enorme terugslag vir Biden toe senator Joe Manchin aangekondig het dat hy nie vir Biden se Build Back Better-bestedingspakket gaan stem nie. Dit beteken dat die Demokrate dié ambisieuse bestedingspakket nie in die senaat goedgekeur gaan kry nie. Biden het die afgelope paar maande die BBB-pakket as sy belangrikste enkele politieke doelwit beskou, en Manchin, ʼn Demokraat, se teenkanting weens oorbodige bestedingsplanne in die pakket is nog ʼn bewys dat die Demokrate die afgelope 11 maande te ver na links beweeg het en dat vrese onder meer gematigde lede van die party ontstaan dat die Republikeine in volgende jaar se middeltermynverkiesing groot oorwinnings kan behaal.

  1. Belangrike verkiesings in Duitsland en Europa

Mark Rutte. (Foto: Sem van der Wal/ANP/AFP)

Die enkele verkiesingsveldtog wat gedurende 2021 internasionaal die meeste dopgehou is, was die Duitse verkiesing in September. Daar was die afgelope jaar in Europa egter ook verkiesings in Nederland, Portugal (presidentsverkiesing), Tsjeggië en Bulgarye. In Nederland het dié land se premier, Mark Rutte, ʼn mandaat van kiesers gekry om vir ʼn vierde keer ʼn regering te lei. Koalisie-onderhandelinge het byna nege maande geneem om af te handel en ʼn nuwe koalisie is verlede week bekend gemaak.

In Tsjeggië en Bulgarye is nuwe regerings verkies met sittende staatshoofde wat uitgestem is. In Portugal is pres. Marcelo Rebelo de Sousa tot ʼn tweede termyn herkies.

Dit was egter die Duitse verkiesing wat internasionaal dopgehou is, en wel om drie redes. Eerstens was dit omdat Angela Merkel ná 16 jaar as bondskanselier vrywillig uitgetree het en die Merkel-era daarmee saam ook tot ʼn einde gekom het.

Angela Merkel. (Foto: Francois Lenoir, Pool Photo via AP)

In die tweede plek sou die groot vraag oor die rigting wat Duitsland ná Merkel se vertrek gaan inslaan, ook deur die verkiesing beantwoord word, omdat dit duidelik was dat hoewel die meeste Duitsers positief oor Merkel was en steeds is, ʼn meerderheid ook ʼn regeringsverandering wou hê. Uiteindelik is ʼn nuwe koalisieregering tussen die Sosiaal-Demokratiese Party (SPD), die Groen Party en die liberale Vrye Demokrate (FDP) gesluit.

Duitsland, en spesifiek Merkel, het die afgelope meer as ʼn dekade ʼn belangrike rol in Europese en globale politiek gespeel, en dit is die derde rede waarom die wêreld so skerp op vanjaar se verkiesing gefokus het. Merkel was die afgelope paar jaar die invloedrykste politikus in Europa se politiek en sonder twyfel een van die invloedrykstes ter wêreld, en dit is nog onduidelik of haar opvolger, Olaf Scholz, dieselfde rol sal kan en wil speel.

  1. Covid-19 in sy tweede jaar

Foto ter illustrasie van die koronavirus en Brittanje. (Foto: Oli SCARFF / AFP)

2021 was die jaar waartydens inentings teen Covid-19 grootliks ʼn einde aan die pandemie sou bring. Regeringsleiers regoor die wêreld het aan die begin van die jaar beloftes van geen nuwe inperkingsmaatreëls gemaak terwyl inentings, veral in ryker lande, begin het. Intussen het talle lande, veral in Europa, die afgelope week of twee streng nuwe inperkingsmaatreëls ingestel. Die afgelope jaar is gekenmerk deur hernude vlae van Covid-19-uitbrekings in lande regoor die wêreld asook groot onsekerheid oor hoe en wanneer die pandemie tot ʼn einde sal kom.

Die politieke debat in baie lande is oorskadu deur regeringsleiers en individue wat ten gunste van verpligte inentings is teenoor organisasies en persone wat van mening is dat verpligte inentings inbreuk maak op persoonlike vryheid. Die groeiende onderskeid wat daar in verskeie lande getref word tussen mense wat ingeënt is en dié wat nie ingeënt is nie, lei ook tot meer en meer protesoptogte en groeiende protesbewegings. Bevolkings regoor die wêreld is Covid-19-moeg, maar regerings vrees vir nuwe gesondheidsorgkrisisse en stel dus voortdurend nuwe maatreëls in om die verspreiding van die virus te probeer beperk.

Die belangrikste indirekte gevolg van die pandemie, en regerings se hantering daarvan, was die toename in lewenskoste weens inflasie. Die versteuring van internasionale voorsieningskettings, onderbroke produksie, veranderende verbruikerspatrone en wisselende vraag het tot die huidige inflasieprobleem bygedra.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

In 2022 sal die groot vraag wees tot watter mate lande met hoë inentingskoerse sal voortgaan om voortdurend nuwe inperkingsmaatreëls in te stel. Terwyl Nederland enkele dae gelede ʼn uiters streng staat van inperking tot 14 Januarie aangekondig het, is daar tans in Swede, net ʼn entjie noord, nie veel inperkingsmaatreëls nie. Sal inperkingsmaatreëls in 2022 tot ʼn einde kom? Sal internasionale reisbeperkings finaal uitgefaseer word? Hoe gaan inperkings en verpligte inentings op die politiek van lande inspeel? Terwyl 2021 die jaar was waarin die wêreld die stryd teen Covid-19 moes en sou wen, eindig die jaar met meer onbeantwoorde vrae as ooit tevore oor die toekoms van ʼn wêreld wat steeds onseker is oor hoe daar met hierdie siekte saamgeleef moet word.

  1. Afghanistan val in die hande van die Taliban

Vliegtuie wag by die lughawe in Kaboel, enkele ure voor Amerikaanse magte die land finaal verlaat
het. (Foto: AFP)

Wat Barack Obama, Donald Trump en Joe Biden met mekaar gemeen het, is dat al drie hierdie Amerikaanse presidente onderneem het om ʼn einde aan die oorlog in Afghanistan te bring. Obama kon nie, Trump sou indien hy tot ʼn tweede termyn herkies is, en uiteindelik het Biden, ten spyte van ernstige waarskuwings oor die gevolge van ʼn vinnige onttrekking, vroeër vanjaar aangekondig dat die laaste Amerikaanse soldate teen 11 September uit Afghanistan sou wees.

Die Amerikaanse onttrekking was egter rampspoedig, en ernstige vrae word steeds gestel oor die Biden-administrasie en die Amerikaanse weermag se beplanning van die onttrekking. Die Amerikaners se oorgee van die indrukwekkende Bagram-lugmagbasis aan Afghanistan se weermag, terwyl dit reeds duidelik was dat die Taliban aan die opmars was, was ʼn enorme flater.

Saam met die lugmagbasis het die Amerikaners miljarde dollar se weermagtoerusting agtergelaat. Dit sluit in 73 vliegtuie, byna 100 voertuie en ʼn groot hoeveelheid toerusting en ammunisie. By die Bagram-lugmagbasis was ook ʼn tronk met sowat 5 000 Taliban-vegters wat ook aan die Afghanistan-weermag oorgegee is.

Sedert die Taliban beheer oor Afghanistan in Augustus verkry het, en die laaste Navo-magte onttrek is, het die land se ekonomie byna heeltemal in duie gestort. Skenkings aan Afghanistan het ook grootliks opgedroog en nuwe onderdrukkende maatreëls teen vroue, minderhede, kunstenaars en selfs akademici is die afgelope tyd ingestel. Duisende mense het uit die land gevlug en nog meer probeer vir asiel in ander lande aansoek doen. ʼn Baie onseker toekoms lê vir Afghanistan voor.

  1. Islamitiese terreur, staatsgrepe en oorlog in Afrika
isis terreur

Argieffoto.

Islamitiese terreurgroepe soos die Islamitiese Staat en Al-Kaïda het gedurende 2021 groot opgang in veral die noorde van Afrika, en in besonder in die Sahel-streek, gemaak. Ook in die Midde-Ooste is Islamitiese terreurgroepe besig om te hergroepeer en is toenemende aanvalle die afgelope tyd in veral Afghanistan, Pakistan en Irak uitgevoer.

Die grootste kommer bestaan egter oor hierdie groepe se toenemende teenwoordigheid in lande soos Mali, Tsjad, Niger, Nigerië, Burkina Faso en ander lande met ʼn groot Moslem-bevolking in Afrika. Die politieke onstabiliteit en ekonomiese probleme van ʼn groot deel van die Sahel-streek skep ʼn teelaarde vir Islamitiese terreur.

Die afgelope jaar is drie militêre staatsgrepe in dié streek uitgevoer. In Mali, Guinee en Soedan het dié lande se weermagte staatsgrepe uitgevoer.

Intussen het Frankryk, weens ongelukkigheid met die politieke onstabiliteit in die streek en regerings in die streek se onvermoë om self iets aan die streek se probleme te doen, begin om sy 5 000 soldate te onttrek wat die afgelope vyf jaar daar gestasioneer was om Islamitiese terreurgroepe te bestry. Al die Franse soldate sal teen die einde van volgende jaar onttrek wees.

Terwyl groepe wat aan die Islamitiese Staat en Al-Kaïda geaffilieer is, toenemend in onstabiele Afrika-lande organiseer en jong manne in hulle magte intrek en oplei, is dit duidelik dat hierdie groepe groot aspirasies het om in veral gebiede met ʼn groot Moslem-bevolking in Afrika uit te brei. Islamitiese terreur in Afrika gaan oor die volgende paar jaar tot enorme uitdagings, konflik en bloedvergieting aanleiding gee, en 2021 was die jaar waarin Islamitiese groepe groot deurbrake op die vasteland gemaak het.

  1. Koalisie teen China versterk

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Die groterwordende koalisie van Stille Oseaan-lande wat saamwerk om toekomstige en huidige aggressiewe optrede deur China in die gebied teen te werk, het in die loop van 2021 ʼn hele paar suksesse behaal. Nadat die Trump-administrasie in die VSA sterk op samewerking met Asiese lande gefokus het, is dié samewerking vanjaar uitgebrei met ʼn belangrike militêre samewerkingsooreenkoms met Australië en die Verenigde Koninkryk, wat die bou van kernaangedrewe duikbote sal insluit.

Die Biden-administrasie is duidelik daarop gefokus om die VSA se militêre fokus na die Stille Oseaan-gebied te verskuif. Terwyl die grootste bedreiging wat China tans inhou die soewereiniteit van Taiwan is, is daar ook vrese in Indië, Japan, die Filippyne en ander lande in die streek dat China territoriale geskille gaan eskaleer.

Tot dusver was Europese lande, gelei deur Duitsland onder Merkel, weens ekonomiese redes versigtiger om China oor sy aggressiewe optrede in onder meer die Suid-Chinese See, die onderdrukking van minderhede in China en China se dreigende optrede jeens Taiwan en op sy grens met Indië en Nepal te takel. Dit lyk egter of die nuwe Duitse regering ʼn meer aggressiewe benadering teenoor China beplan.

Xi Jinping, president van China. (Foto: Li Gang/Xinhua News Agency via AP)

Terwyl die Chinese president Xi Jinping die afgelope twee jaar China glad nie verlaat het nie weens die pandemie, is daar onder sy leiding verskeie stappe in China gedoen om Xi se politieke en ideologiese houvas op dié land te versterk. Daarmee saam kom China egter toenemend geïsoleerd voor. China se planne om ʼn weermagbasis aan die weskus van Afrika, in Ekwatoriaal-Guinee, te bou, het onlangs bekend geword en is ʼn aanduiding dat dié land sy ekspansionistiese buitelandse beleid oor die komende jare gaan voortsit. Dit sal China se eerste weermagbasis aan die Atlantiese Oseaan wees.

Die spanning tussen ʼn breë koalisie van Westerse en Stille Oseaan-lande teen China sal waarskynlik oor die volgende paar jaar verder versterk word. Die vraag is of militêre konflik tussen hierdie lande en China moontlik is, en wat nodig sal wees om sodanige konflik te laat eskaleer. China onder Xi gaan nie minder aggressief raak nie. Xi wil China as die belangrikste moondheid in die wêreld vestig. In sy poging om dit te doen, gaan sy vyande waarskynlik net meer raak, en soos 2021 gewys het, gaan hulle alliansies begin smee soos wat ons laas tydens die Koue Oorlog gesien het.

  1. Vier verkiesings wys uiteenlopende ideologiese bewegings in Suid-Amerika

Pedro Castillo. (Foto: Gian MASKO/AFP)

Vier belangrike verkiesings het die afgelope jaar in Suid-Amerika plaasgevind. In Ecuador en Argentinië het die kiesers na regs geswaai terwyl kiesers in Peru en Chili redelike ekstreem-linkse kandidate as president verkies het.

Kiesers in Ecuador is op 7 Februarie na die stembus in ʼn algemene verkiesing. Lenin Moreno, die sittende linkse president, het homself nie weer as kandidaat beskikbaar gestel nie. Tydens die tweede ronde van die verkiesing op 11 April het Ecuador vir die eerste keer in dekades ʼn regse president verkies toe die bankier Guillermo Lasso in ʼn verrassende uitslag die linkse kandidaat Andrés Arauz verslaan het.

Op 6 Junie is Pedro Castillo as nuwe president van Peru, een van die welvarendste lande in Suid-Amerika, verkies. Castillo, ʼn voormalige onderwyser en linkse aktivis, het met populistiese beloftes van groot regeringsprogramme die armste mense in Peru oortuig om vir hom te stem. Hy het ʼn naelskraapse oorwinning oor ʼn regse kandidaat behaal.

Op 14 November was daar in Argentinië ʼn redelike skerp swaai na regs tydens middeltermynverkiesings. Kiesers in dié land het hulle woede teenoor die huidige linkse regering getoon. Frente de Todos, die huidige regerende party, het vir die eerste keer in 40 jaar sy meerderheid in die senaat verloor.

Gabriel Boric (Foto: MARTIN BERNETTI/AFP)

In Chili is die 35-jarige linkse aktivis Gabriel Boric verlede naweek met ʼn gemaklike meerderheid van 56% van die stemme teen die 44% van die regse José Antonio Kast tot volgende president van dié land verkies. Aandelemarkte in Chili het die afgelope paar dae skerp gedaal uit vrees dat Boric ʼn harde linkse ekonomiese beleid vir die dié land, een van die mees stabiele en welvarendste lande in Suid-Amerika, kan instel. Chili se geldeenheid, die peso, het Maandag 3% van sy waarde teen die Amerikaanse dollar verloor.

Belangrike verkiesings lê volgende jaar in Suid-Amerika voor. Dié vasteland is baie swaar deur die pandemie getref, en die ekonomiese gevolge word steeds daagliks deur gewone mense daar gevoel. In Brasilië en Colombia sal kiesers volgende jaar na die stembus gaan met huidige regse leiers wie se gewildheid in beide lande skerp gedaal het.

Die politiek in Suid-Amerika is baie vloeibaar en verkiesingsuitslae in 2021 het dit weer bevestig.

  1. Oorlogswolke hang steeds oor Oekraïne

Oekraïense soldate (Foto: Yuriy DYACHYSHYN/AFP)

Gaan Rusland vroeg in 2022 Oekraïne aanval? Dit is die vraag waarmee baie Westerse leiers die afgelope twee maande hulself besig gehou het terwyl meer as 100 000 Russiese soldate op die grens tussen dié land en Oekraïne ontplooi is.

Nadat Rusland in 2014, ná ʼn referendum in die Krim-skiereiland, beheer oor dié deel van Oekraïne geneem en dit geannekseer het, bestaan vrese dat dit net ʼn kwessie van tyd is voordat Rusland groter dele in die ooste van Oekraïne sal probeer annekseer, of selfs die hele land.

Vir die Russe en die Russiese president, Wladimir Poetin, gaan dit oor Rusland se posisie in die wêreld en die mate waartoe die Weste Rusland respekteer. Die Russe voel steeds dat Navo met sy uitbreiding in Oos-Europa die afgelope paar jaar die destydse Amerikaanse minister van buitelandse sake, James Baker, se beweerde beloftes aan Mikhail Gorbachev in 1990 verbreek het. Baker het na bewering belowe dat Navo nie verder oos as Duitsland sou uitbrei nie.

Daar is baie historiese redes waarom Rusland en Poetin mag voel dat Oekraïne, of ʼn deel van dié land, by Rusland tuishoort. Die belangrikste rede vir die huidige konflik is egter Rusland se frustrasie met die Weste en gevolglik Navo se aggressiewe uitbreiding in Oos-Europa.

Poetin se onlangse eise dat Navo alle militêre optrede in Oos-Europa, die Suid-Kaukasus-streek en Sentraal-Asië moet staak, spreek hiervan. Die kans is skraal dat die Weste aan hierdie eise gehoor sal gee, wat die kanse vir konflik verder verhoog.

Groot staatsmanne is nou nodig om die spanning tussen die Weste en Rusland vir eens en vir altyd by te lê. Dit is onseker of oorlog in Januarie gaan uitbreek – dalk gebeur dit later. Poetin het egter die afgelope paar jaar gewys dat hy bereid is om risiko’s te neem. Dit maak omstandighede baie onseker. Die kanse dat die VSA en Europese lande egter in ʼn oorlog met Rusland betrokke sal raak, is skraal. Dit beteken dat sou Rusland wel Oekraïne aanval, dit tot meer sanksies, isolasie van Rusland en spanning op die Europese oosgrens aanleiding sal gee en dat jare van komplekse uitdagings kan voorlê.

  1. Einde van Netanyahu-era in Israel

Benjamin Netanyahu. (Foto: Sebastian Scheiner/POOL/AFP)

Op 13 Junie het die 12-jarige premierskap van Benjamin Netanyahu in Israel tot ʼn einde gekom toe ʼn nuwe eerste minister deur ʼn ingewikkelde koalisie verkies is. Naftali Bennett, ʼn regse politikus, het Netanyahu opgevolg en hy sal oor twee jaar deur sy een koalisievennoot, die sentristiese Yair Lapid, as eerste minister vervang word.

Netanyahu het sedertdien vir die derde keer in sy politieke loopbaan leier van die opposisie in die Knesset, die Israeliese parlement, geword. Sy party, Likud, is steeds die grootste in die Knesset, en Netanyahu het die afgelope maande alles in sy vermoë gedoen om die koalisieregering te destabiliseer.

Intussen duur ʼn saak van bedrog teen Netanyahu in ʼn hof in Israel voort, en indien die huidige koalisie staande sou bly, is die kans skraal dat Netanyahu weer in die toekoms eerste minister van Israel sal word. Sy nalatenskap is egter baie groot. Onder sy leiding het Israel ideologies na regs beweeg terwyl die land se ekonomie skep gegroei het met gevorderde nywerhede wat in Israel gevestig is.

  1. Spanning in EU neem toe

Die Europese parlement. (Foto: Kenzo TRIBOUILLARD/AFP)

Die Europese Unie het die afgelope maande stappe teen minstens twee lidlande, Pole en Hongarye, ingestel met befondsing uit die ekonomiese heropboufonds wat tans van albei lande weerhou word omdat die leierskap van die EU ongelukkig is met Pole en Hongarye se hantering van sommige beleidskwessies.

Wat Pole betref is die EU ongelukkig oor onder meer die Poolse regering se hervorming van die regstelsel, wat insluit dat regters in die grondwethof op ʼn sekere ouderdom moet aftree. Nuwe wetgewing in Hongarye wat dit onwettig maak om inligting oor sekere seksuele gedrag in skole aan kinders oor te dra, was vir die EU die laaste strooi.

Die spanning tussen die EU en dié twee Sentraal-Europese lande is egter reeds die afgelope paar jaar aan die ophou. Die EU word gedomineer deur liberale leiers uit Wes-Europese lande soos Duitsland, Nederland, België en Nederland, en Sentraal- en Oos-Europese lande wat heelwat meer konserwatief is, voel toenemend dat Wes-Europese lande hulle waardes op hierdie Sentraal-  en Oos-Europese lande probeer afdwing.

Terwyl die Poolse en Hongaarse regerings die voortou neem in die geveg teen die EU, word hulle stilweg deur verskeie ander lande in die streek ondersteun, wat die groeiende kulturele en ideologiese kloof tussen Wes- en Oos-Europa beklemtoon.

Verkiesings in 2022 in onder meer Frankryk, Hongarye, Swede en Slowenië kan die verhouding tussen die westelike en oostelike lande in Europa verder raak. Dit lyk egter asof die kloof tussen wes en oos groter word. Lande in Sentraal- en Oos-Europa het die afgelope twee dekades baie sterk ekonomiese groei getoon en raak belangriker rolspelers in Europese sake. Dit is duidelik dat baie van hierdie lande se bevolkings hulleself nie meer deur Wes-Europa wil laat voorskryf in ruil vir EU-befondsing nie. Dit beteken groter spanning en stryd oor die volgende jare. Die volgende loopgraaf in hierdie stryd is die algemene verkiesing in April in Hongarye.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.