21 dood, 96 vermis in Indiese sikloon

Beskadigde waentjies lê Dinsdag in ‘n woonbuurt in Mahua, Indië. Die sikloon het reeds minstens 21 lewens geëis. (Foto: Sam Panthaky/AFP)

Minstens 21 mense is dood en 96 was Dinsdag nog vermis nadat ʼn monstersikloon die weste van Indië getref het. Dit is ʼn dubbele slag vir miljoene mense wat steier onder ʼn verwoestende styging in Covid-19-infeksies.

Derduisende mense sit sonder krag nadat sikloon Tauktae, een van ʼn toenemende getal verergerende storms in die Arabiese See wat aan klimaatsverandering gewyt word, die kus van Gujarat Maandag getref het.

Die sikloon het wind van tot 185 km/h meegebring, bome ontwortel en kragdrade en selfoontorings laat kantel terwyl dit binnelands gemik en minstens effens verswak het.

ʼn Ondersteuningskip wat olieboortorings bedien, het aan die kus van Mumbai onder enorme golwe deurgeloop en gesink. Altesame 96 van die 273 mense aan boord word vermis, het die Indiese vloot Dinsdag gesê.

Die departement van verdediging sê 177 mense is van die skip gered. Die soektog na die res duur onder “geweldig moeilike seetoestande” voort.

Die bevestigde dodetal staan tans op 21 terwyl winde deur lendelam huise geruk en strate in rivierstrome verander het.

Hoewel die sikloon een van die ergstes is wat die gebied in dekades tref, het beter weervoorspellings die afgelope paar jaar tot beter voorbereiding gelei. Meer as 200 000 mense in gevaarsones het hul huise verlaat voor die storm getref het.

Die Mumbaise owerhede het Maandag die lughawe vir etlike ure gesluit en mense gevra om binnenshuis te bly terwyl enorme golwe die seefront gemoker het.

Covid-19-katastrofe

Die dodelike weerstelsel het Indië se reaksie op ʼn styging in koronavirus-infeksies belemmer. Minstens 4 000 sterftes word daagliks aangemeld en die gesondheidstelsel is op breekpunt.

Mumbai het Sondag nagenoeg 600 pasiënte in veldhospitale na veiliger plekke verskuif, terwyl die seevlak tot drie meter by die dorp Diu gestyg het.

In Gujarat is alle Covid-19-pasiënte in hospitale binne vyf kilometer van die kus oorgeplaas. In Mahuva is ʼn Covid-19-pasiënt egter dood nadat hy nie betyds oorgeplaas kon word voor die storm getref het nie.

Die owerhede het geskarrel om te verseker daar is geen kragonderbrekings in die sowat 400 Covid-19-hospitale en 41 suurstofaanlegte in die gebied nie. Meer as 1 000 Covid-19-hospitale in kusdorpe is van kragopwekkers voorsien. Alle inentings in dié gebied is vir twee dae opgeskort, terwyl Mumbai die program ʼn dag lank gestaak het.

Die Arabiese See het vantevore veel minder ernstige siklone as die Golf van Bengale ondervind, maar stygende watertemperature weens aardverwarming het dít verander, sê Roxy Mathew Koll, verbonde aan die Indiese Instituut vir Tropiese Meteorologie.

“Die Arabiese See is een van die komme in oseane wêreldwyd wat die vinnigste verwarm,” sê hy.

Die uitwerking word wyd gevoel en die owerhede in Nepal, sowat 2 000 km van Gujarat, het bergklimmers op Everest aangeraai om nie hul kampe te verlaat nie.

Meer as 200 bergklimmers het nietemin die waarskuwing verontagsaam en is op pad na die kruin van Everest met die oog daarop om dit teen die einde van die week te bereik, het ʼn regeringsamptenaar by die basiskamp gesê.

Die sikloon gaan na verwagting swaar reën tot by Delhi – meer as 1 200 km van Gujarat – en in Uttarakhand, op die Himalaja-grens met Tibet, veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.