21 drawwers sterf tydens Chinese ultramarathon

Yellow River Stone Forest in Baiyin, Gansu-provinsie in China (Foto: Tracylxh, eie werk via Wikimedia Commons)

Minstens 21 mense is dood tydens ʼn 100 km-veldwedloop in China toe hael, ysreën en wind hulle getref het.

Die uiterste weerstoestande het deelnemers Saterdagmiddag op hoë dele van die Yellow River Stone-woud naby Baiyin in die noordwestelike Gansu-provinsie getref. Plaaslike media berig van die slagoffers was elite Chinese langafstand-hardlopers.

Die amptelike nuusagentskap Xinhua het Sondag bevestig die dodetal staan op 21, volgens die plaaslike reddingsbevelsentrum. Die staatsuitsaaier CCTV het berig ʼn deelnemer wat vermis is, is ook dood aangetref.

Zhang Xuchen, burgemeester van Baiyin, het gesê ʼn deel van die rowwe ultramarathon-roete, tussen kilometer 20 en 31, is “skielik getref deur erge weersomstandighede”. “Hael en ysreën het in ʼn kort tydjie skielik die plaaslike gebied getref en daar was sterk wind. Die temperatuur het skielik geval,” het Zhang gesê.

Kort ná organiseerders boodskappe om hulp van sommige deelnemers ontvang het, het hulle ʼn reddingspan ontplooi wat 18 van die 172 deelnemers kon red.

Teen 14:00 het weersomstandighede vererger en die wedloop is dadelik opgeskort. Plaaslike owerhede het in daardie stadium nog reddingsbeamptes ontplooi, het Zhang bygevoeg.

Onder die slagoffers is top- plaaslike marathon-atlete Liang Jing en Huang Guanjun, berig plaaslike media. Liang het die afgelope paar jaar verskeie Chinese ultramarathons gewen.

Huang, wat doofstom is, het die marathon vir mans met gehoorgestremdhede gewen by die 2019 nasionale Paralimpiese Spele in Tianjin. Organiseerders het sy afsterwe aan ʼn vriend bevestig.

“As organiseerders het ons ʼn groot skuldgevoel en ons blameer onsself. Ons treur vir die slagoffers en betuig ons innige meegevoel met hul families en die beseerde hardlopers,” het Zhang gesê terwyl hy en ander beamptes gebuig het.

Die wedloop, wat deur die Baiyin- plaaslike regering en die Chinese Atletiekvereniging ondersteun word, is al die afgelope vier jaar suksesvol aangebied.

Xinhua het berig sommige atlete het aan verkluiming gely en Zhang het gesê agt persone word vir geringe beserings in die hospitaal behandel. Hulle is in ʼn stabiele toestand.

Beeldmateriaal wat die openbare uitsaaier uitgesaai het, wys hoe reddingspersoneel, geklee in beskermingsdrag, met flitse deurnag die rotsagtige terrein deursoek.

Sommige marathon-deelnemers, toegedraai in komberse, is op ʼn draagbaar weggedra.

“My hele lyf was deurnat, insluitend my skoene en sokkies. Ek kon nie regop staan nie as gevolg van die wind. Ek was bekommerd dat ek sou omwaai. Die koue het al hoe meer ondraaglik geword,” het een van die deelnemers aan plaaslike media gesê.

Chinese sosiale media was Sondag vol woede en berou. Gebruikers blameer die organiseerders dat hulle nie gebeurlikheidsbeplanning gedoen het nie. “Die plaaslike organiseerders het ʼn verantwoordelikheid vir die slegte weer in die marathon! Huidige weervoorspellings is baie akkuraat – watter tipe noodplanne het hulle gehad?” wou een gebruiker weet.

Meteorologiese owerhede in Gansu het aan plaaslike media gesê hulle het ʼn weerberig aan die organiseerders gestuur, maar “dit het geen besonderhede van ʼn kouefront bevat nie”. Die meteorologiese buro se verslag Vrydag het wel ʼn waarskuwing bevat van “skielike stortreën, hael, weerlig, skielike stormsterkte wind” en ander erge weerstoestande in die provinsie.

Provinsiale owerhede het ʼn ondersoekspan aangestel om die voorval te ondersoek, het Zhang gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henk ·

China het ‘n regering en beheerliggame wat geen empatie met menselewens het nie

Anthony ·

Sekerlik het hul vooraf n idee gehad dat die weer gaan goor wees dan nie ?

ES ·

Sjoe praat van slegte geluk… ysreen, hael en wind op een slag…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.