22 dood in ontploffing langs chemiese aanleg

Brandbestryders probeer die valmme blus van een van die vragmotors wat ná die ontploffing aan die brand geslaan het.

Altesaam 22 mense is dood en talle voertuie beskadig in ʼn ontploffing buite ʼn chemiese aanleg in die noordooste van China.

Die ontploffing het Woensdag kort ná middernag (plaaslike tyd) plaasgevind by ʼn oplaaiplek langs die aanleg wat bedryf word deur die Hebei Shenghua Chemical Industry Co. Ltd., volgens ʼn verklaring van die stadsraad van Zhangjiakou. Die aanleg is geleë in dié stad, wat gasheer vir die Olimpiese Winterspele 2022 gaan wees.

Nog 22 mense is beseer en 38 vragmotors en 12 passasiersvoertuie is deur die gevolglike brand verwoes.

Die stadsraad het ʼn beroep op inwoners gedoen om die perseel te vermy omdat dit die opruimingspogings kan bemoeilik.

Die oorsaak van die ontploffing word nog ondersoek en geen nadere inligting is onmiddellik bekendgemaak nie.

Ondersoekers vermoed ʼn vragmotor wat die hoogs vlambare samestelling etaan vervoer het vir gebruik deur ʼn nabygeleë chemiese fabriek het ontplof terwyl dit verby die Shenghua-aanleg gery het. Die vlamme het na ander vragmotors versprei, maar nie na die aanleg nie, waar bedrywighede soos normaal voortgegaan het.

Nywerheidsveiligheid is ʼn groot kopseer in China, waar die vereistes vir die berging en vervoer van chemikalieë en ander gevaarlike stowwe dikwels swak toegepas word.

ʼn Reuse-ontploffing in 2015 wat veroorsaak is deur gevaarlike stowwe wat onbehoorlik geberg is, het 173 mense se lewe geëis.

In die jongste jare het volksbewegings in China duisende mense in protesoptogte laat opruk in stede oral in die land om te betoog teen planne om nog aanlegte, vullisverbranders en ander projekte op te rig wat as skadelik vir die omgewing beskou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.