23 sterf ná aanval op Mogadisjoe-hotel

Die toneel in Mogadisjoe, Somalië (28 Oktober 2017) Foto; AP Photo/Farah Abdi Warsameh

ʼn Polisiebeampte van Somalië het gesê veiligheidsmagte het ʼn nag lange beleëring van ʼn hotel in Mogadisjoe beëindig.

Vyf ekstremiste aanvallers het die gebou bestorm ná ʼn selfmoordbomaanvaller ʼn motorbom Saterdagmiddag omstreeks 17:00 by die ingang van die hotel laat onplof het.

Kapt. Mohamed Hussein het gesê soldate het Sondagoggend beheer oorgeneem van die hotel.

Minstens 23 persone, insluitend polisiebeamptes, veiligheidswagte van die hotel en gaste, is dood tydens die aanval, het Hussein aan Reuters gesê. “Die dodetal kan moontlik steeds styg. Ons vermoed ander militante het hulself vermom en saam met die inwoners wat gered is, ontsnap.”

Hussein het gesê drie militante is in hegtenis geneem en twee het hulself opgeblaas nadat hulle geskiet is.

Die voorkant van die drieverdiepinghotel is verwoes en ʼn hotel langsaan is ook beskadig. Talle Somalië-beamptes woon in hotelle omdat dit beter veiligheid bied teen aanvalle.

Die Islamitiese groep al-Shabaab het Saterdag direk ná die aanval verantwoordelikheid aanvaar. Hulle wil glo die “swak, VN-ondersteunde regering” omverwerp en streng Islam-wette toepas.

-Reuters

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.