24 lyke reeds op oud-polisieman se erf gevind

Forensiese wetenskaplikes en polisiebeamptes by die huis van die voormalige polisiebeampte, Hugo Ernesto Osorio Chavez (Foto: Marvin Recinos/AFP)

ʼn Span forensiese spesialiste in westelike El Salvador het tot dusver die oorskot van minstens 24 mense opgegrawe in die huis van ʼn voormalige polisiebeampte, wat ʼn bendeleier geword het. Dit is glo hoofsaaklik vroue en meisies.

Die forensiese span het die 51-jarige Hugo Ernesto Osorio Chavez se huis in Chalchuapa betree, volledig geklee in bioveiligheidsdrag.

Gustavo Villatoro, minister van justisie en sekuriteit, het gesê minstens 24 persone se oorskot is in Osorio Chavez se huis begrawe. Na raming is daar moontlik tot 40 persone op die perseel begrawe.

Die voormalige polisiebeampte is op 8 Mei in hegtenis geneem as die hoofverdagte in die moord op ʼn vrou en haar dogter ná bure die owerhede in kennis gestel het. Dit het daartoe gelei dat polisiebeamptes sy huis betree en toe op die liggame afgekom het.

Volgens Villatoro word DNS-monsters tans versamel van inwoners wat geliefdes vermis om te bepaal of enige van die vermiste persone se oorskot nou gevind is.

Osorio Chavez se huis, wat naby ʼn suikerrietplantasie geleë is, is deur polisiebeamptes afgesper en verslaggewers kan nie die gebied betree nie.

Israel Ticas, forensiese kriminoloog, het aan AFP gesê die opgrawing sal ook op ander dele van die eiendom voortgaan. Die operasie kan meer as ʼn maand lank duur.

ʼn Plaaslike regter het Woensdag bepaal dat 11 mense in hegtenis geneem moet word wat met Osorio Chavez verbind kan word. Die medepligtiges word beskuldig van aanranding op vroue met die doel om ernstig te beseer en moord.

El Salvador, ʼn klein landjie met ʼn bevolking van sowat 6,5 miljoen, het in 2020 sowat 1 322 moorde aangeteken – ʼn gemiddeld van 20 per 100 000 inwoners. Die getal is beduidend laer as 2019 en die laagste sedert die einde van die land se burgeroorlog in 1992, aldus amptelike syfers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Nick

My hart het nou amper gaan staan. Ek dog dis iewers in Pretoria en in n oud ssb lid se tuin gevind. Kan jy jou voorstel hoe ou Julius dan sou uitpak? ????