25 sterf in Portugal-brande

Brande in Portugal (Foto: @MeaTheWingsBoo, Twitter)

Minstens 25 persone is in sentraal Portugal dood, meeste van hulle in motors, toe ʼn veldbrand oor ʼn pad beweeg het.

Jorge Gomes, woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake, het Sondagoggend gesê die sterftes het in Pedrogao Grande plaasgevind, ongeveer 150 km noordoos van Lissabon, waar 600 brandbestryders sedert Saterdag probeer om die veldbrand onder beheer te bring.

Gomes het gesê 16 persone is in hul motors dood op ʼn pad tussen Figueiro dos Vinhos en Castanheira de Pera. Van die ander persone is dood weens rookinaseming.

Die openbare uitsaaier RTP het gesê ongeveer 20 persone is beseer, insluitend ses brandbestryders. Veertien van die beseerdes is in ʼn ernstige toestand.

Eerste minister Antonio Costa het gesê “dit is die grootste tragedie wat ons in jare tref”. Hy het gesê Portugese owerhede probeer die slagoffers uitken en Spaanse reddingsbeamptes sal ondersteuning bied om die brande te beheer.

Portugal beleef die afgelope paar dae ʼn hittegolf met temperatuur van 40 grade Celsius.

Dié Europese land het gewoonlik veldbrande in die droë somermaande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.