26 sterf toe kragkabel in sloot val

’n Kosmark in Kinshasa. (Foto: ARSENE MPIANA / AFP)

Minstens 26 mense is Woensdag in die Demokratiese Republiek van die Kongo doodgeskok toe ’n oorhoofse hoogspanningskabel in ’n dreineringsloot by ’n kosmark geval het.

Die voorval het by die gewilde Matadi-Kibala-kosmark in die land se hoofstad, Kinshasa, plaasgevind.

Volgens Charles Mbutamuntu, provinsiale regeringswoordvoerder, was die sloot ná die oggend se reën nog met water gevul toe die kabel en gebreek en daarin beland het.

Die Kongolese presidensie het op Twitter gesê dat “alle lig op die oorsake van hierdie tragedie gewerp sal word en dat verantwoordelike partye verantwoording sal moet doen.”

Pres. Felix Tshisekedi het glo al verlede maand besluit dat die mark dringend verskuif moet word aangesien die huidige ligging verskeie gevare inhou.

Die nasionale kragmaatskappy, Snel, het in ’n verklaring gesê dat “’n weerligstraal ’n kragdraende kabel afgesny het”.

’n Amptenaar van dié staatsbeheerde maatskappy het aan AFP gesê dat die bou of oprig van geboue onder hoogspanningslyne onwettig is, maar dat die ministerie van land nietemin permitte daarvoor uitreik.

Christelle Zindo, een van die handelaars, sê reënwater dreineer bykans nooit nie, maar loop oor na die mark aangesien die dreineringsloot verstop is.

“Al die handelaars moet met hul hande en voete in die water werk,” sê sy.

Elektrisiteitsinfrastruktuur in die Kongo word dikwels swak onderhou. In Kinshasa, ’n uitgestrekte metropool van meer as tien miljoen mense, is verskeie distrikte geneig tot oorstromings tydens tropiese stortreën weens dreineringstelsels wat swak onderhou word.

Die voorval volg ’n dag nadat 40 ontheemde mense in die ooste van die land deur gewapende magte vermoor is. Baie van die vermoordes was glo handelaars en klante van ʼn mark.

Die liggame van die mense wat by die mark gesterf het, is intussen na ʼn lykshuis geneem terwyl ondersoek na die voorval ingestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Miskruier ·

Ons is deel van die onvermoë van politisie om n welvarende samelewing vir almal te bou

Marius ·

Welkom in Afrika. Die wanbestuur, korrupsie en spoedige agteruitgang is oral.

Di ·

Sjoe lyk my hulle het dieselfde probleem daar as ons hier in SA waar als ten gronde gaan en niks in stand gehou word nie.

Mudguard ·

Hulle het ten minste krag. Hier by ons sou niemand gesterf het nie, want dit was loadshedding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.