28 uitlanders glo agter sluipmoord op Haïti-president

Pres. Jovenel Moise is vroeg in sy huis vermoor. (Foto: Valerie Baeriswyl/AFP)

Owerhede in Haïti het bevestig dat ’n kommandogroep van 28 lede glo by die moord van dié land se pres. Jovenel Moïse betrokke was. Altesaam 26 van dié lede is glo oudsoldate van Colombia en die ander twee is Amerikaners.

’n Reusesoektog na die lede van die groep is intussen van stapel gestuur.

Maroela Media het vroeër berig Moïse (53) is Woensdagoggend in sy huis deur ʼn groep gewapende mans vermoor. Hy is sowat 12 keer in die kop, bors, heup en buik geskiet. Sy vrou is ook tydens die aanval beseer. Die motief vir die moord is in hierdie stadium nog nie bekend nie.

Leon Charles, Haïti se polisiehoof, het bevestig drie van die vermeende huurmoordenaars is doodgeskiet en twee is in hegtenis geneem. Daar is nog talle verdagtes op vrye voet.

Intussen het die tussentydse eerste minister van Haïti, Claude Joseph, ʼn ramptoestand aangekondig en die lughawe in Port-au-Prince gesluit.

Haïti se regering het Washington en die VN gevra om troepe te stuur om sy hawens en lughawens te help beveilig. Die regering vrees dat onluste ná Moïse se dood kan uitbreek. Die VSA het reeds aangedui dat hy FBI-lede gaan stuur.

Die veiligheidswagte wat die dag van Moïse se dood aan diens was, is ook ondervra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Motief? Haiti is ‘n baie arm land. Wie wil daar ‘n voet in die deur kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.