29 dood ná treine in Griekeland bots

Die ongeluk het laat Dinsdagaand (28 Feb 2023) plaasgevind. (Foto: Stringer/SOOC/AFP)

Minstens 29 mense is dood en nog 85 beseer nadat twee treine laat Dinsdagaand naby die Griekse stad Larissa ontspoor en gebots het.

ʼn Woordvoerder van die brandweer het bevestig dat drie waens net voor middernag ontspoor het voordat die treine halfpad langs die roete tussen Athene en Thessaloniki gebots het. Die een trein het ʼn vrag vervoer, terwyl die ander een 350 passasiers vervoer het.

“Altesame 29 mense is tot dusver dood gevind,” het die woordvoerder, Vassilis Vathrakogiannis, gesê.

“Al die beseerdes is ook reeds na nabygeleë hospitale geneem.”

Altesame 194 mense is per bus na Thessaloniki oorgeplaas, van wie 26 intussen na hospitale geneem is. Daar word nog na die res van die slagoffers gesoek.

Griekse medialede het reeds die ongeluk bestempel as die “ergste treinongeluk wat Griekeland nog gesien het”.

Sowat 150 brandbestryders en 40 ambulanse is kort ná die voorval na die toneel ontbied. Hyskrane en meganiese spesialiste is ook ingespan om die omgekeerde waens te verwyder.

Een van die treinwaens is heeltemal vergruis, wat reddingswerkers se pogings om mense uit die puin te haal, bemoeilik. Dít terwyl rook en vlamme uit ʼn ander wa gekom het.

Volgens die openbare televisiestasie ERT het een van die treinwaens ná die botsing aan die brand geslaan en verskeie mense daarbinne vasgekeer.

“Die meeste passasiers is egter al na veiligheid geneem,” het Vathrakogiannis verseker.

“Die pogings om ander vasgekeerdes te bevry is nog aan die gang, maar vind onder moeilike omstandighede plaas.”

Die land se regering het reeds ʼn noodvergadering gereël om die pad vorentoe te beplan, en die Griekse minister van gesondheid, Thanos Plevris, is na die toneel. Takis Theodorikakos, minister van binnelandse sake, hou intussen toesig oor die reaksie van ʼn krisisbestuursentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Samuel ·

Enige lewensverlies is tragies, hartseer. Sterkte aan die treurendes in Griekeland.

Miskruier ·

Hoop nie die vragtrein het giftige stowwe aan boord gehad nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.