29 dood toe bus by wal afrol

Die toeristebus tussen die huise. (Foto: Twitter)

Minstens 29 mense, baie van hulle Duitsers, is Woensdag dood toe ’n toeristebus in ʼn ongeluk op die Portugese eiland van Madeira betrokke was, het plaaslike media berig.

Dié bus het op die wal van die kusdorp Canico, oos van die plaaslike hoofstad Funchal, gery toe die bestuurder beheer van die voertuig om ʼn draai verloor en by ’n wal afgestort het. Dié bus het tussen huise tot stilstand gekom.

Die presiese oorsaak van die ongeluk is op die stadium onduidelik. Plaaslike media berig dat die remme van die bus waarskynlik onklaar geraak het of dat iets moontlik fout gegaan het met die bus se versnellerpedaal. Dit was nie duidelik presies hoeveel mense ten tyde van die ongeluk in die bus was nie.

Minstens nog 28 mense is beseer, waaronder twee Portugese burgers, het die hospitaal in Funchal gesê.

Volgens Filipe Sousa, plaaslike burgemeester, het die bestuurder en die toergids in die bus die ongeluk oorleef. Die meeste vakansiegangers was tussen 40 en 50 jaar oud.

Die Portugese president, Marcelo Rebelo de Sousa, het gesê hy het verneem dat al die oorledenes Duitse burgers was, hoewel owerhede in Duitsland nog nie dié inligting kon bevestig nie.

De Sousa het gesê hy beplan om sy Duitse eweknie, Frank-Walter Steinmeier, te kontak. Die Duitse ministerie van buitelandse sake het intussen ’n noodhulplyn opgestel.

“Ons is geskok oor die tragiese busongeluk in Madeira,” het die ministerie op Twitter gesê. “Ongelukkig moet ons aanvaar dat van die slagoffers Duitsers is.”

“Verskriklike nuus van Madeira,” het Steffen Seibert, woordvoerder van die regering, bygevoeg. “Ons betreur almal wat hul lewens in die busongeluk verloor het en ons gedagtes is met die beseerdes.”

Die Portugese eerste minister, Antonio Costa, het sy medelye uitgespreek teenoor die gesinne wat deur die ongeluk geraak word. “Ek het ook die geleentheid gekry om my medelye aan kanselier Angela Merkel te betoon in hierdie moeilike tyd,” het Costa op Twitter geskryf.

Volgens ’n verklaring wat deur die Portugese nuusagentskap Lusa aangehaal word, het die vervoermaatskappy wat die bus besit, SAM, gesê hy is vasbeslote om die oorsaak van die ongeluk te bepaal en het gesê hy sal ten volle saamwerk met die toepaslike owerhede.

De Sousa het ondertussen sy planne gekanselleer om die toneel Woensdagaand te besoek nadat hy gehoor het dat militêre vliegtuie moontlik nodig gaan wees om die beseerdes na hospitale op die vasteland te vervoer, het plaaslike media berig.

“Dit is ’n oomblik van pyn, maar ook van solidariteit,” het De Sousa gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.