3 000 Zim-gevangenes kwytgeskeld

Emmerson Mngangagwa, president van Zimbabwe

Emmerson Mnangagwa, president van Zimbabwe, het Woensdag amnestie verleen aan minstens 3 000 gevangenes, ʼn besluit wat ten doel het om die oorbevolking in die land se tronke te verlig.

Volgens die Zimbabwiese departement vir gevangenisse en korrektiewe dienste (ZPCS) is die doodsvonnisse van alle gevangenes wat al langer as 10 jaar op die doodstraf wag na lewenslange tronkstraf omgeskakel.

Alford Mashango Dube, assistent-kommissaris-generaal van die ZPCS, het in Harare gesê die amnestie word aan die gevangenes toegestaan in ooreenstemming met artikel 112 van die Zimbabwiese grondwet.

Volle kwytskelding is ook toegestaan aan alle mansgevangenes wat voor of op 28 Februarie 1998 tot lewenslange tronkstraf gevonnis is en alle vrouegevangenes wat voor of op 31 Desember 2010 tot lewenslange tronkstraf gevonnis is.

Gevangenes wat van dié amnestie uitgesluit word, is alle oortreders wat skuldig bevind is aan moord, hoogverraad, verkragting of enige ander seksuele oortreding, voertuigkaping en gewapende roof.

Dube het gesê Mnangagwa het sy prerogatief van genade gebruik om kwytskelding aan sommige gevangenes te bied.

Die amnestie sal help om die oorbevolking in Zimbabwe se tronke te verlig, waar daar tans 20 000 gevangenes aangehou word, ondanks ʼn maksimum kapasiteit van 17 000.

“Die besluit help nie net om die oorbevolking van ons tronke te verminder nie, maar dien ook ter herinnering aan die gevangenes en die samelewing dat die doel van tronkstraf gegrond is op die beginsel van hervorming eerder as vergelding,” het Dube gesê.

Hy het ʼn beroep op die samelewing gedoen om te verseker dat gevangenes wat vrygelaat word veilig in hul onderskeie gemeenskappe herintegreer word.

Gevangenes wat baat vind by die amnestie sluit in jeugoortreders en gevangenes wat in swak gesondheid is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

**anoniem** ·

REGTIG!!!! Hulle word vrygelaat net om weer en weer en weer dieselfde misdade te pleeg of selfs erger midade die keer. Nee wat gevangenisse het die lewe deesdae net te lekker, g’n wonder hulle wil heeltyd teruggaan selle toe nie.

Gerd Lourens ·

Die grootste gros van hulle gemeenskappe is in SA, so hulle sal met ope arms hier verwelkom word.

GM ·

Moord word uitgesluit, maar nie poging tot moord nie? Of tel dit onder die moordenaar-kategorie?

wraggies ·

Raai wie oppad SA toe is, en hulle sal waarskynlik nie ons toerisme bedryf baat nie.

Oom Kalahari ·

Suid Afrika hier kom ons en grond moet ge-eien word. Van tronk tot plaas eienaar. Ai dit gaan lekker in SA Utopia.

Flip Pretorius ·

Ek glo dit is misdadigers wat vry gelaat is nie. Dit is heelwaarskynlik politieke gevangenis wat teen Mugabe was. Is reg laat hulle vry, maak plek vir Mugabe en sy gesin in die tronk

Arno ·

Malema koop soldate, hy waarsku Zim oor grond vir blanke boere aan te bied, en daar is talle sprake vir opleiding van EFF soldate, nou dit? Is dit toeval? Hulle gaan nie te min in SA opeindig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.