3 in hof ná moord op Namibiese egpaar

Giel (79) en Sarie Botma (78) (Foto: Facebook)

Die drie aangeklaagdes wat van die moord op ʼn bejaarde Namibiese egpaar beskuldig word, het dié week vir ʼn derde keer in die Keetmanshoop-landdroshof verskyn.

Giel (79) en Sarie Botma (78) is in Februarie vanjaar op hul plaas in die Koës-omgewing, in die suide van Namibië, vermoor. Giel is na bewering met sy eie vuurwapen in die gesig geskiet en Sarie is glo met ʼn skerp voorwerp aangeval. Die egpaar is dood in hul huis aangetref.

Luidens die Namibiese radiostasie Kanaal 7 is die drie verdagtes as Julius Arndt, Andries Afrikaner en Johannes Christiaan geïdentifiseer.

Volgens Kanaal 7 staan al drie verdagtes tereg op twee aanklagte van moord, die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie, diefstal en huisbraak met die doel om te roof. Arndt staan tereg op ʼn bykomende aanklag van huisbraak met die doel om te roof wat betrekking het tot ʼn ander onverwante voorval.

Volgens die Namibiese koerant Republikein het landdros Melissa Mungunda die saak dié week tot Augustus uitgestel vir verdere polisieondersoek. Die verdagtes bly in polisieaanhouding nadat hulle borgtog in Februarie vanjaar geweier is uit vrees dat die mans ʼn vlugrisiko is.

Maroela Media het vroeër berig die gemeenskap van Koës in dié land het in Februarie vanjaar vinnig saamgestaan en kort ná die voorval twee verdagtes, wat toe in besit van die egpaar se bakkie was, in hegtenis geneem. Die derde verdagte is enkele dae later vasgetrek.

Die Popular Democratic Movement (PDM), die amptelike opposisieparty, het die moord op die Botma-egpaar vroeër veroordeel. Manual Ngaringombe, PDM se sekretaris-generaal, het aan die Namibiese koerant New Era gesê dié land het ʼn “hawe vir sulke wreedaardige moorde” geword en dat drastiese stappe gedoen moet word om sulke voorvalle ʼn nekslag toe te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boere Hart ·

En nou word ons mense ook daar in Duits Wes Afrika uitgeroei….die wat dink ons staar nie n vilksmoprd in die gesig nie is soos n perd met oogklappe op!!!

piper ·

dsie dinge wil ook nou lol in namibie. ons het n plaas gehad in koes omgewing. fantasties gewees. warm somer aand het ons beddens na buite gedra en op die grasperk geslaap. deur die nag soms wakker geword deur hasies wat die gras kom vreet om en onder jou bed. daardie dae is verby. jammer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.