30% van Covid-19-pasiënte het langdurige simptome

(Argieffoto: Unsplash)

Minstens een uit elke drie Covid-19-pasiënte wat gehospitaliseer is, het op die lange duur gesondheidsprobleme ontwikkel. Dit sluit orgaanprobleme en verswakte geestesgesondheid in.

Dit is volgens ʼn oorsig van studies wat die blywende uitwerking van dié siekte ondersoek het.

Die oorsig is Maandag in die vaktydskrif Nature Medicine gepubliseer en kyk na die voorkoms van langtermynsimptome by persone wat die koronavirus opgedoen het. Die oorsig het nege langtermynstudies wat in Europa, die Verenigde State en China gedoen is, nagegaan.

Die algemeenste simptome wat op die lange duur by pasiënte voorkom, sluit in moegheid, kortasem, angs, depressie en posttraumatiese stresversteuring (PTSV).

Nagenoeg 30% van pasiënte wat aan studies deelgeneem het, het minstens een van dié simptome aangemeld. Die oorsig het ook bevind dat verskeie pasiënte ʼn verskeidenheid orgaanprobleme aangemeld het, maande nadat hulle uit die hospitaal ontslaan is. In sommige gevalle het pasiënte kardiovaskulêre siektes en chroniese ontsteking ontwikkel.

Navorsers wat die studies onderneem het, sê die data dui op ʼn gesondheidskrisis wat regerings van naderby moet bestudeer sodat dit doeltreffend bestuur kan word.

“Gegewe die miljoene mense wat wêreldwyd deur Covid-19 besmet word, weet ons nog nie wat die langtermyngevolge vir pasiënte se fisieke, kognitiewe en geestelike gesondheid is nie,” het Kartik Sehgal, hoofskrywer van die oorsig, mediese onkoloog aan die Dana-Farber-kankerinstituut in Boston en instrukteur aan die Harvard- mediese skool, gesê.

“Hierdie bevindinge is dalk net die puntjie van die ysberg.”

ʼn Studie in Italië wat 143 pasiënte ingesluit het, het bevind dat byna 90% van die pasiënte langdurige simptome gerapporteer het, ongeveer twee maande nadat hulle van die koronavirus herstel het.

Die algemeenste simptome was moegheid (53,1%), kortasem (43,4%), gewrigspyn (27,3%) en pyn op die bors (21,7%).

Drie studies van Frankryk, Brittanje en China het getoon dat tussen 25% en 30% van die pasiënte slaapsteurnisse aangemeld het weke nadat hulle van Covid-19 herstel het. Ongeveer 20% van die pasiënte het ook haarverlies aangemeld.

Die resultate rakende geestesgesondheid was ewe kommerwekkend, het Sehgal gesê.

“Dit is belangrik om nie die geestelike gevolge van die koronavirus te vergeet nie. Terwyl dokters die fisieke simptome behandel, kan die geestelike simptome soms agterweë bly.”

Uit ʼn groep van 402 pasiënte in Italië wat vir een maand in die hospitaal was, het 56% positief getoets vir minstens een psigiatriese toestand soos PTSV, depressie of angs. Ongeveer 30% van die pasiënte het PTSV ontwikkel.

Die navorsers dring daarop aan dat die langtermynuitwerking van die koronavirus meer breedvoerig bestudeer word en dat klinieke vir mense met dié simptome gestig word. Sehgal het gesê hy hoop dat mense tot die besef kom dat dit nie goed genoeg is om bloot Covid-19 te oorleef nie.

“Hoewel die voorkoming van sterftes die belangrikste doel bly, is dit ook belangrik om te erken dat die siekte verskeie langtermyngevolge op pasiënte se organe kan hê. Die mediese behoeftes van pasiënte wat die koronavirus opgedoen het, hou nie op nie wanneer hulle uit die hospitaal ontslaan word nie; selfs nie noodwendig ná drie tot vier weke nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Drikus

Wat van die mense weet geen simptome wys nie maar wat CORONA gekry het, hulle word natuurlik uitgesluit uit die studie… Met ander woorde ons gebruik net die siekste mense met ons steekproef, en dan uit die siekste kry ons ‘n sub group. Die 30% is dus baie misleidend of hoe ?

mynie

Dit affekteer jou gesondheid nog vir lank daarna. Het vir baie maande gesukkel met erge gewrigspyne, want die Covid het in my gewrigte agtergebly. Dit het ook my sig aangetas. Kan glad nie meer sonder n leesbril nie, en nou agt maande later, het dit nog nie verbeter nie. Baie het gese jou oe sal weer regkom, dit het nie. Sukkel nou al met ver sien ook. Voorheen elke 2e dag 5 km gestap, nou kan ek skaars 3 km stap en dan is ek gedaan vir dae daarna.

Rooikoos

En wat van die tans onbekende langtermyn siektes a.g.v. die entstowwe?

Carina

Ek was ook gehospitaliseer vir meer as 2wk vir Covid. Dr het my ‘n 25% kans op oorlewing gegee. As ek nie so hardegat was nie, was ek seker nou nog daar. Longe lyk soos wit sponse op CT Scan. Hartspoed nou nog te vinnig a.g.v. swak longe. Ek het ook nierstene gekry en colonic-diverticulosis – dis blasies in die dikderm. Skade is permanent en ek kan enige tyd enigiets te wagte wees wat my gesondheid betref. Vind ook ek is meer as gewoonlik vergeetagtig, ek verloor my balans sommer uit die bloute, en goed val uit my hande vir… Lees meer »

Elsonia

Ek en my man het beide middel Desember 2020 Covid opgedoen. My man was 11 dae in di hospitaal. Ek was gelukkig en net siek by di huis.
Nou na Covid het ek erge PTSD en angstigheid en my hare val bosse en bosse vol uit
Wat staan my te doen oor my haarverlies?