300 dalk dood in aanval op Marioepol-teater

‘n Lugfoto deur Planet Labs PBC wys die teater in Marioepol, nadat dit gebombardeer is. Foto: / Planet Labs PBC / AFP)

Beamptes van Oekraïne sê 300 mense kon dalk in verlede week se aanval op die teater in die hawestad Marioepol omgekom het. Meer as 1 000 mense het glo hier geskuil toe die gebou verlede Woensdag gebombardeer is.

“Inligting vanaf ooggetuies dui daarop dat omtrent 300 mense, meestal vroue en kinders, in die aanval oorlede is,” het beamptes van die stadsaal op Telegram geskryf. Die beamptes meen Rusland was bewus daarvan dat vroue en kinders hier skuil.

Rusland se departement van verdediging het ontken dat sy magte die teater geteiken het, maar beweer dat lede van Oekraïne se verregse Azof-bataljon die gebou geteiken het.

Ongeveer 100 000 mense is glo sonder kos of water in die hawestad vasgekeer, terwyl Russiese magte die stad omsingel.

Volgens senior Russiese weermagbeamptes het 1 351 soldate reeds in Oekraïne gesneuwel en 3 825 is beseer. Meer as 400 000 burgerlikes is uit dié gebied na veiligheid geneem. “Meer as 88 000 van hulle was kinders en 9 000 buitelanders,” het Mikhail Mizintsev tydens ʼn nuuskonferensie gesê.

Beamptes het ook gewaarsku dat Westerse lande se verskaffing van wapens aan inwoners van Oekraïne ʼn fout is, aangesien dit bloot die militêre konflik uitrek en dus die aantal sterftes laat toeneem terwyl dit “geen uitwerking op die uitkoms van die militêre aksie sal hê nie”.

Pres. Wolodimir Zelenski het juis Donderdag ʼn beroep op sy bondgenote in die Weste gedoen om Oekraïne van meer wapens en ook vegvliegtuie te voorsien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.