32 000 volgende jaar by Disney afgelê

Die Disney-oord in Anaheim in die VSA. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Disney het aangekondig dat hy in 2021 altesaam 32 000 mense, hoofsaaklik by sy Amerikaanse temaparke, gaan aflê. Dit is ʼn styging van die syfer wat in September bekend gemaak is.

Die maatskappy, wat voorheen gesê het hy gaan 28 000 mense aflê, steier onder die Covid-19-pandemie en die bepalings oor sosiale afstandhandhawing.

Disney voer in dokumente by die Amerikaanse Sekuriteit- en Uitruilingskommissie aan die besnoeiings sal in die eerste helfte van volgende jaar gedoen word. Hy skryf dit toe aan die heersende ekonomiese klimaat, veranderings in die manier waarop sake gedoen word  en Covid-19.

Aanstellings sal voortaan net in sleutelposte gedoen word, poste word verminder en sommige werkers word op verpligte verlof geplaas.

Die meeste van die afleggings is by “parke, ervarings en produkte”.

Variety berig sowat 37 000 werkers is op 3 Oktober tydelik ontslaan.

Volgens CNBC het Disney wêreldwyd nagenoeg 203 000 werkers, waarvan sowat 20% deeltyds in diens is.

Disneyland in Anaheim naby Los Angeles lok jaarlikse miljoene besoekers en is naas die Magic Kingdom by Walt Disney World in Orlando die wêreld se temapark wat die meeste besoek word.

Anders as die Disney-parke in Florida, Tokio, Hongkong, Sjanghai en Parys, kon die Anaheim-oord weens die staat se koronavirusbeperkings egter nog nie weer heropen nie.

Die afleggings kom kort op die hakke van Disney se verlies van $4,7 miljard (sowat R71 miljard) in die jongste kwartaal, ʼn weerspieëling van die gevoelige terugslae wat sy pretparke moes verduur, asook weens die ontsporing of uitstel van groot fliekvrystellings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Misky ·

Ten minste het Amerika n struktuur en hulpmiddels in plek om mense te help. 90% van hulle kabinet/regering dra nie alles weg en steek in hul eie sak nie. Dis hartseer, maar hulle sal dit oorleef en ander opsies om te oorweeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.