Minstens 33 persone is dood toe weerligstrale hulle getref het tydens swaar moesonstorms in Indië. Die persone is in Bihar en Uttar Pradesh oorlede.
Umesh Singh, ʼn beampte by die rampbestuursentrum in Patna, het gesê 28 persone is in verskeie distrikte in Bihar oorlede. Verskeie ander is beseer toe stormsterkte wind en reën bome en elektrisiteitspale omgewaai het en huise en tydelike strukture verwoes het. “Die sterftes is aangemeld net toe die moeson in Bihar en nabygeleë streke aangekom het. Die slagoffers is hoofsaaklik boere en hawelose mense wat buite was.”
Persone wat beserings opgedoen het, ontvang behandeling in hospitale.
Nog vyf sterftes is onder soortgelyke omstandighede aangemeld in Uttar Pradesh.
Die dodetal weens die swaar reën sal na verwagting toeneem, terwyl beamptes nog die omvang van die skade probeer bepaal in die twee state.
Weerlig en storms kom algemeen in Indië voor tydens die moesonseisoen tussen Junie en September. Die weerburo voorspel nog storms vir die volgende paar dae.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
2 Kommentare
Shame. This is sad news.
Net een vraag: “Boere” of “Landbouers”?