34 sterf toe man homself, dobbelhuis aan die brand steek

Die dobbelhuis in Resorts World Manila (Foto: Irene Mindanaoan/Mindanaoan-blog/Twitter)

Soveel as 34 mense is dood toe ʼn gewapende man in Manila in die Filippyne Vrydag in die vroeë oggendure met ʼn vuurwapen in ʼn dobbelhuis losgebrand het. Hy het daarna van die tafels en toe ook homself aan die brand gesteek het.

Die voorval het by die Resorts World Manila, ʼn hotel en dobbelhuis, plaasgevind. Volgens die Filippynse polisie het die man enkele minute voor die tyd dobbelskyfies ter waarde van $2,3 miljoen (sowat R29 miljoen) gesteel.

Supt. Tomas Apolinario, woordvoerder van die buro vir brandbeskerming, het aan CNN gesê die 34 mense wat dood verklaar is, het nie skietwonde nie, en het vermoedelik versmoor van rookinaseming toe die man homself en die dobbelhuis aan die brand gesteek het.

Talle ander mense is beseer toe hulle by die vensters van die dobbelhuis uitgespring het om aan die skote en die rook te ontsnap.

Die Filippynse nasionale polisiehoof, Ronald Dela Rosa, het Vrydag gesê dit blyk dat die man nié op die slagoffers wou skiet nie.

Dela Rosa sê ook die voorval word in dié stadium nie as ʼn terreuraanval beskou nie.

“Dit is nog te vroeg om seker te wees, maar sover ons weet, is dit nie Isis nie,” het hy aan CNN gesê. “Indien dit wel dié terreurgroep was, moes al die mense wat gedobbel het, doodgeskiet gewees het.”

Volgens berigte het die man sy eie lewe en dié van ander geneem nadat sy rooftog nie geslaag het nie.

Dela Rosa sê dit is egter in dié stadium nie veilig om enige aannames rakende die aanval te maak nie. Hy het ook gewaarsku dat terreurgroepe moontlik valslik verantwoordelikheid vir die aanval kan neem.

Die aanvaller tel onder die 34 sterftes. Sy liggaam was onherkenbaar verbrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

‘Human rights’ het ook maar hul beperkings… Snaaks dat vuur altyd die woede moet ontlont as mense nie hul selfopgelegte wil kan uitoefen nie…

Paul ·

Wat het hierdie nou enigsins met “human rights” uit te waai, John?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.