39 liggame in vragmotor gevind

Polisielede ondersoek die toneel in die suidooste van Engeland waar die liggaame van 39 mense agterin ‘n vragmotor gevind is. (Foto: Stefan Rousseau/AP)

Die polisie in die suidooste van Engeland sê 39 liggame is Woensdag gevind in ʼn groot vragmotor wat vermoedelik van Bulgarye gekom het.

Paramedici het die vragmotor in die Waterglade-nywerheidspark in Grays, ʼn dorp nagenoeg 40 km buite Londen, gevind. Die vragmotor het Engeland vermoedelik Saterdag deur die Walliese hawe Holyhead binnegekom.

“Dit is ʼn tragiese voorval waar ʼn groot getal mense gesterf het. Ons ondersoek sal vasstel wat presies gebeur het,” het supt. Andrew Mariner, Essex se polisiehoof, gesê.

“Ons is besig om die slagoffers te identifiseer, maar ek voorsien dat dit ʼn geruime tyd gaan duur.”

Die polisie wou ook nie die geslag van die slagoffers bekend maak nie.

ʼn 25-jarige man van Noord-Ierland is reeds in verband met die sterftes in hegtenis geneem. Hy bly in aanhouding, maar is nog nie aangekla of geïdentifiseer nie.

Die toneel is afgesper en toegang na en van die nywerheidsgebied is steeds verbode.

Eerste minister Boris Johnson het in ʼn twiet onderneem om nou saam met die Essex-polisie te werk om vas te stel presies wat gebeur het.

“My gedagtes is by diegene wat dood is, asook hul geliefdes,” het hy gesê.

Polisielede op die toneel in die suidooste van Engeland. (Foto: Stefan Rousseau/AP)

Die polisie het nog geen formele aankondiging gedoen oor ʼn moontlike verband met mensesmokkelary nie, maar dit word vermoed weens die manier waarop die slagoffers agterin die vragmotor ingedruk is.

Die voorval stem ooreen met ʼn tragedie in 2000 toe 58 migrante agterin ʼn vragmotor in Dover gesterf het. Sedertdien het kleiner getalle mense op soortgelyke wyse in vragmotors gesterf.

Die owerhede in Bulgarye kon nie bevestig dat die vragmotor wél uit dié land onderweg was nie. “Ons is in verbinding met ons ambassade in Londen, asook met die Britse owerhede,” het Tsvetana Krasteva, woordvoerder van die land se departement van buitelandse sake, gesê.

Seamus Leheny, Noord-Ierland se beleidsbestuurder vir die Vragvervoervereniging, het die vragmotor se roete as vreemd bestempel. Dit het oënskynlik na Ierland gereis, en daarna na Holyhead in Wallis. Volgens hom is die roete moontlik gevolg weens verskerpte veiligheidsmaatreëls by die groot Britse hawe Dover, asook die Franse hawe Calais.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack Klok ·

Europese Unie – een groot land sonder grensbeheer.

Ideaal vir smokkelaars’

58 Mense versmoor in toegesluite vragmotor.

Brexit maak al meer sin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.