Vier spelers en die president van die Brasiliaanse sokkerklub, Palmas, het Sondag in ’n vliegongeluk gesterf. Die vlieënier het ook tydens die ongeluk omgekom.
Die vliegtuig het kort nadat dit opgestyg het, neergestort. Die vlug was onderweg van Tocantins na Goiania in Brasilië.
Die sokkerklub het in ’n verklaring op sosiale media gesê dat hulle onderweg was na Goiania vir ’n kragmeting teen Vila Nova wat Maandag sou plaasvind.
Al die insittendes, onder wie die president van die sokkerklub, Lucas Meira, en die sokkerspelers, Lucas Praxedes, Guilherme Noe, Ranule en Marcus Molinari, is in die ongeluk dood.
Die sokkerklub het gevra dat mense vir die families van die oorledenes moet bid.
In 2016 het 19 spelers van die Brasiliaanse sokkerklub, Chapecoense, in ’n ongeluk in Colombia gesterf terwyl hulle onderweg was om ’n sokkerwedstryd in Medellin te speel. Altesaam 71 mense het in hierdie ongeluk gesterf.