4 sterf in aanval op Mali-hotel

VN voertuie en ‘n ambulans buite die hotel. Foto: AP Photo/Baba Ahmed.

Vier mense is dood in wat beskryf word as ʼn terreuraanval op ʼn hotel buite die hoofstad van Mali.

Salif Traore, dié land se minister van veiligheid, het gesê die aanval het Sondag by die Le Campement Kangaba naby Bamako plaasgevind. Twee aanvallers en twee hotelgaste is in die aanval dood. Die presiese omstandighede rondom die aanval is nog nie bekend gemaak nie.

“Spesiale teen-terreurmagte soek tans na die ander twee aanvallers,” het Traore gesê.

Agt mense, onder wie ses veiligheidspersoneellede en twee burgerlikes, is beseer in die aanval terwyl 36 mense ongedeerd gered is.

Teen-terreurmagte van verskeie lande het kort ná die aanval in Mali aangekom en die hotel omring.

Die aanval kom slegs ʼn week nadat die Amerikaanse ambassade in Mali buitelanders gewaarsku het oor verhoogde risiko by gewilde bestemmings in Bamako. Die ambassade het mense aangeraai om plekke soos hotelle, restaurante en kerke waar daar nie voldoende veiligheid is nie te vermy.

Groot dele van die land word deur Islamitiese en ander rebellegroepe beheer sedert opstande in 2012.

Die VN het tans meer as 800 werknemers wat in die land ontplooi is en wat besig is om vrede tussen die rebelle en die regering te probeer bewerkstellig.

In November 2015 het twee aanvallers die Radisson Blu-hotel met aanvalsgewere en ploftoestelle bestorm terwyl veiligheidswagte skofte geruil het. Meer as 100 mense is as gyselaars aangehou en minstens 20 mense is in dié aanval dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.