4 sterf in vliegongeluk, 7-jarige oorleef

'n Piper PA 34-vliegtuig

‘n Piper PA 34-vliegtuig

ʼn Sewejarige meisie het Vrydagaand ʼn vliegtuigongeluk in Kentucky, Amerika oorleef waarna sy na ʼn nabygeleë huis gestap het om hulp te ontbied.

Volgens sers. Dean Patterson van die Kentucky-polisie het die Piper PA 34-vliegtuig in Lyon County neergestort. ʼn Inwoner van die omgewing het sowat ʼn half uur nadat daar kontak met die vliegtuig verloor is, 911 geskakel en aan die polisie gesê dat ʼn sewejarige meisie by sy huis opgedaag het en gesê het sy was in ʼn vliegtuigongeluk.

Die meisie is na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer vir behandeling. Soek- en reddingspanne het kort hierna die wrak van die vliegtuig in ʼn beboste gebied gevind. Vier liggame is op die ongelukstoneel gevind. Dit is nog nie duidelik wat die meisie se verwantskap aan die oorledenes is nie.

Die vliegtuig het in Key West, Florida opgestyg en was op pad na Mount Vernon in Illinois. Patterson het gesê dit is ʼn wonderwerk dat die meisie oorleef het. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.