40 dood ná ontploffing by vyfsterhotel

Só lyk die Saratoga-vyfsterhotel nou. (Foto: ADALBERTO ROQUE / AFP)

Die dodetal staan nou op 40 nadat ʼn ontploffing by ʼn luukse hotel Havana, Kuba, verlede week geruk het.

Die Saratoga-vyfsterhotel, wat al verskeie bekendes, onder wie Madonna, Beyonce, Mick Jagger en Rihanna, gehuisves het, is ten tyde van die ontploffing gerestoureer en het dus geen gaste gehuisves nie.

Daar was wel 51 werkers Vrydag in die hotel doenig toe ʼn gaslekkasie na bewering die ontploffing veroorsaak het.

Altesame 54 mense is tydens die ontploffing beseer. Dit sluit in ses mense wat in dié stadium steeds in ʼn kritieke toestand verkeer.

Die hotel sou vandeesweek heropen het. Nou soek reddingswerkers onverpoos deur die puin na oorlewendes. Daar word tans op die kelder en onderkelder van die hotelgebou gefokus.

‘n Reddingswerker skarrel ná ‘n ontploffing by die Saratoga-vyfsterhotel in Havana. (Foto: YAMIL LAGE / AFP)

“Dit is in ʼn baie gevaarlike stadium weens die konsentrasie van die puin en die moontlikheid van ineenstorting,” sê die brandweerhoof Luis Carlos Guzman.

Die dodetal het ʼn dag gelede nog op 35 gestaan.

Die ACN-staatsnuusagentskap berig vier liggame wat oornag gevind is, is dié van hotelwerkers.

“Volgens familielede word daar beraam dat nog sowat 12 of 13 mense vasgekeer is,” lui die berig.

Die ontploffing, wat volgens ʼn amptenaar gebeur het terwyl ʼn petroltenk deur ʼn tenkwa hervul is, het groot dele van die hotel se fasade beskadig, vensters uitgeblaas en motors wat buite die hotel geparkeer was, vernietig.

Die eerste vier verdiepings van die hotel is veral geraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Moet net nie weer geld by die ANC vra nie, doen jule eie herstelwerk met julle uitmuntende ambagsmanne.

Chris dupreez ·

Geld om die luukse hotel op te gradeer , maar Suid Afrika moet hulle geld gee vir kos.

Alfred E Neuman ·

Sterkte aan die besserdes en afgestorwenes se families.

Swerwer ·

Die naam “ACN”-staatsnuusagentskap” van Kuba is darem baie na aan die naam “ANC” , ………..wonder maar net omdat dit juis Kuba is. Help nie die ANC stuur die keer die “Weermag” om te gaan help nie, en nog minder die Brandbestryders, wie sal dit die keer wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.