41 dalk binnekort ná 17 dae uit tonnel gered

Personeel van die nasionale rampreaksiemag (NDRF) saam met ander reddingsbeamptes by die ingang van die Silkyara-tonnel in Uttarakhand (28 November 2023) (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

Reddingswerkers staan Dinsdag op die drumpel om 41 mans te red wat al 17 dae lank in ʼn tonnel in Indië vasgekeer is.

Daar word sedert 12 November, toe ʼn gedeelte van ʼn ondergrondse tonnel in Uttarakhand in die noorde van Indië ineengestort het, van graafmasjiene gebruik gemaak om tonne puin, grond en beton te verwyder in ʼn poging om die mynwerkers te bereik.

Ambulanse het na die mond van die tonnel se ingang beweeg – gereed om die mans te ontvang.

“Die werk om pype in die tonnel aan te lê om die werkers na buite te bring, is afgehandel,” het Pushkar Singh Dhami, minister van Uttarakhand, gesê. Hy het bygevoeg hy hoop die mans sal “binnekort” uitgebring word.

Syed Ata Hasnain, ʼn senior reddingsbeampte en afgetrede generaal, het aan verslaggewers gesê die laaste stuk grond moet nog verwyder word, maar daar “kan enige tyd ʼn deurbraak wees”. Volgens hom kan die werkers, wat vasgekeer is, die klanke van die opgrawings hoor.

Draagbare is spesiaal toegerus met wiele om die moeë mans deur 57 meter van staalpyp te trek. Beamptes waarsku dat, sodra die eerste werker na buite gebring is, kan dit ʼn paar uur duur voor almal gered is.

Familielede staan reeds buite die tonnel en vier fees.

“Ons is dankbaar teenoor God en die reddingsbeamptes wat gewerk het om hulle te red,” het Naiyer Ahmad aan AFP gesê. Sy jonger broer, Sabah Ahmad, is een van die vasgekeerde werkers. Hy kamp al twee weke lank op die toneel.

Sudhansu Shah, wat al op die toneel uitkamp kort ná die tonnel op 12 November ineengestort het, wag ook vir sy jonger broer Sonu Shah. Hy het gesê die familie is baie verlig. “Ons is vol hoop en gelukkig,” het hy gesê.

Minister Dhami het die “gebede van tien miljoene landsburgers en die onverpoosde werk van al die reddingsbeamptes” geloof.

Die werkers is na verwagting in ʼn goeie toestand, maar ʼn span paramedici in ʼn veldhospitaal staan gereed om hulle te ondersoek sodra hulle gered word.

Die werkers is verlede week vir die eerste keer lewend gesien toe ʼn endoskopiese kamera by ʼn dun pyp, wat gebruik word om suurstof, kos en water aan die vasgekeerde mynwerkers te verskaf, afgestuur is.

Die werkers het genoeg ruimte in die tonnel. Die gebied binne is sowat 8,5 meter hoog en twee kilometer lank.

Arnold Dix, president van die International Tunnelling and Underground Space Association, wat as ʼn raadgewer optree, het aan verslaggewers gesê die mans is in goeie luim. Hy het gehoor hulle speel selfs krieket.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.