43 Hongkong-betogers kry borgtog

Gewelddadige betogings in Hongkong duur voort. (Foto: Yupperz/Twitter)

Altesaam 43 Hongkongse betogers is op borgtog vrygelaat nadat hulle van oproerigheid (rioting) aangekla is vir hulle aandeel in die naweek se teenregeringsopstande in die stad.

Die betogers is deel van ʼn groep van 49 wat Sondag aangekeer is in die grootste massa-inhegtenisneming sedert die betogings op 9 Junie begin het teen voorgestelde wetgewing wat gaan toelaat dat verdagtes in strafsake aan China uitgelewer mag word.

Een betoger het nie by die hof opgedaag nie en ʼn lasbrief is vir sy inhegtenisneming uitgereik. Die ander 43 is van oproerigheid aangekla, ʼn aanklag wat ʼn minimumvonnis van 10 jaar tronkstraf het.

Nóg ʼn betoger is aangekla van die besit van ʼn dodelike wapen.

Hofdokumente wys die betogers is meestal in hulle vroeë tot middel twintigs – die oudste is 41 jaar oud – wat die jong ouderdom van talle van Hongkong se meer ongenaakbare teenregeringsbetogers weerspieël.

Die South China Morning Post berig dat baie van die beskuldiges ingevolge hulle borgtogvoorwaardes nou aan ʼn inklokreël moet voldoen.

Tientalle ondersteuners, asook ander betogers, het Woensdagoggend die verhoor by ʼn landdroshof in die stad bygewoon, ondanks stormsterk wind en gietende reën.

Verskeie leiers uit demokratiese kampe, waaronder Kwok Ka-ki, ʼn lid van die wetgewer, het ook die verrigtinge bygewoon.

“Die oorsprong van die konflik is nie die jong mense nie, maar [uitvoerende hoof] Carrie Lam, haar administrasie en die Hongkongse polisie,” het Kwok buite die hof gesê.

“Dié drakoniese maatreëls gaan Hongkong nie baat nie. Die toestande gaan die geweld net laat vererger. Jong mense gaan bloot meer saamstaan.”

Dinsdagaand, nadat nuus oor die aanklagte bekend geword het, het honderde mense weer opgeruk om te betoog, wat tot hernieude botsings met die polisie gelei het.

Dié soort gewelddadige botsings is deesdae ʼn alledaagse verskynsel in Hongkong.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Muffin ·

n Minimum van 10jr tronkstraf vir oproerigeid. Ons regering moet gaan leer in Hong Kong. Hier word alles verwoes en gebrand en gedans maar kom niks oor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.