43 sterf toe bus omslaan

Argieffoto: memyselfaneye (Pixabay)

Minstens 43 mense is dood en 24 ander beseer nadat ʼn bus Woensdagaand van die pad af gegaan en teen ʼn boom gebots het in die Nyamakate-gebied in Zimbabwe.

Senior assistentkommissaris, Charity Charamba, woordvoerder van die Zimbabwiese polisie, het gesê die King Lion-bus was op die Harare-Chirundu-snelweg na Zambië onderweg toe die ongeluk ongeveer 30 km voor Makuti gebeur het. “Die busbestuurder het op ʼn draai beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn boom gebots voordat die bus omgeslaan het,” het Charamba gesê.

Daar word vermoed dat die bus te vinnig gery het wat daartoe bygedra het dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.

Charamba het gesê passasiers wat geringe beserings opgedoen het, is na provinsiale hospitale in Kaoi en Chinhoyi geneem, terwyl passasiers wat ernstiger beseer is na Harare geneem is.

King Lion-busse was in die afgelope paar jaar in verskeie noodlottige ongelukke betrokke. Agt passasiers is dood en 53 ander beseer toe een van die maatskappy se busse in Julie 2015 op die Chirundu-pad in Zambië omgeslaan het nadat ʼn band gebars het. Een van die maatskappy se busse was ʼn jaar vantevore in ʼn trompop botsing naby Beatrice in Zimbabwe betrokke. Die joernalis Mernat Mafirakurewa het in dié botsing gesterf.

ʼn Paar maande gelede is 20 mense in Mvuma in Zimbabwe dood toe ʼn vragmotor teen ʼn Proliner-bus, wat na Johannesburg op pad was, gebots het en die twee voertuie aan die brand geslaan het.

Maroela Media het verlede maand berig 35 mense, onder wie 32 skoolkinders was, is dood nadat ʼn bus naby die Mlela-rivier in die Meatu-distrik in die noordelike deel van Tanzanië beheer verloor en by ʼn wal afgerol het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bennie Smith ·

As elke bus en taxi bestuurder maar net wil besef die groot verantwoordelikheid wat hulle op hulle het, met al die passasiers se lewens, dan sal hulle versigtig en ordentlik bestuur.

Koos1 ·

MM die opskif is nie gepas nie.
Meer gepas sou wees: 43 sterf nadat bus boom tref en omslaan.
Of: 43 sterf toe busbestuurder beheer verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.