45 dood in gru-busongeluk in Bulgarye

Die uitgebrande bus. (Foto: Dimitar KYOSEMARLIEV / AFP)

Minstens 45 mense, onder wie verskeie minderjariges, is Dinsdag dood toe ’n toeristebus suid van die Bulgaarse hoofstad Sofia aan die brand geslaan het.

Die brand het glo op die bus met 52 insittendes uitgebreek voordat die bus in relings vasgery het. Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

“Die bestuurder het dadelik gesterf en niemand kon die deure oopmaak nie,” sê Stanimir Stanev, nasionale polisiehoof.

Die tragedie het hom omstreeks 02:00 (plaaslike tyd) op ’n snelweg naby die dorpie Bosnek, sowat 40 kilometer van Sofia af, afgespeel. Die bus het glo plaaslike en internasionale toeriste van Istanbul in Turkye na Skopje in Noord-Masedonië vervoer toe dit aan die brand geslaan het.

Die Noord-Masedoniese premier, Zoran Zaev, het aan die staatsnuusagentskap MIA gesê hy kon intussen met een van die oorlewendes praat.

“Hy het verduidelik dat hulle in die bus geslaap het toe hulle ’n ontploffing hoor. Hulle het een van die vensters gebreek en kon ’n paar mense red. Ongelukkig het die res nie daarin geslaag om deur die venster te ontsnap nie,” het hy gesê.

“Dit is ’n groot tragedie … 12 [slagoffers] is onder 18 jaar oud, en die res is jong mense van ongeveer 20 tot 30 jaar oud. Die meeste van hulle is ons burgers, maar daar is [sommige] van Serwië ook.”

’n 16-jarige meisie is een van sewe insittendes wat die voorval oorleef het.

Al sewe oorlewendes – twee vroue en vyf mans – is van dieselfde familie, het die Noord-Masedoniese minister van gesondheid, Venko Filipce, gesê. Hy het die oorlewendes in die Sofia-hospitaal besoek, waar hulle vir ernstige brandwonde behandel is.

Die oorlewendes het by die vensters uitgespring, het Maya Arguirova, hoof van die behandelingsentrum vir ernstige brandwonde, gesê. Slagoffers is ná die ongeluk na die sentrum vervoer.

Die bus is glo geregistreer by die “Besa trans”-toeriste-agentskap, wat toere na Istanbul reël.

Bulgarye se tussentydse premier, Stefan Yanev, en die minister van binnelandse sake, Boyko Rashkov, het hul vanoggend na die toneel gehaas.

“Dit is ’n skrikwekkende prentjie daarbinne. Ek het nog nie so iets gesien nie,” het Rashkov aan verslaggewers gesê.

“Niemand kan met sekerheid sê hoeveel [slagoffers] daar is en wie hulle was nie. Die liggame is erg verbrand en moet een vir een uitgeken word.”

Bulgarye het ’n geskiedenis van dodelike busongelukke. In 2018 is 17 Bulgaarse toeriste dood toe ’n bus op ’n nat pad gegly en omgeslaan het.

Altesame 628 mense het in 2019 in padongelukke gesterf, waarna 463 in 2020 op die land se paaie gesterf het.

Die ongelukke is dikwels toegeskryf aan swak padtoestande, verouderde motors en spoed.

Die jongste ongeluk het plaasgevind op ’n gedeelte van die snelweg met steil hellings en sonder duidelike afbakeningslyne. Diana Roussinova van ’n nie-regeringsorganisasie wat hom vir padveiligheid beywer, sê verskeie ongelukke is al daar aangemeld.

Die organisasie het al in die verlede by owerhede oor die spesifieke gedeelte van die pad gekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Onnie ·

Dit moet verskriklik wees om te weet jy gaan doodbrand en daar is niks wat jy jan doen om dit te keer nie. Soos ek verstaan MOET n bus juis om daardie rede ‘n nooduitgang hê – soos bv die groot agterruit wat skoolbusse gehad het wat maklik uitgestamp kon word. Ook vliegtuie, treine en ander openbare vervoer moet dit hê, en mense moet vooraf ingelig word oor hoe om dit te gebruik in geval van nood. Dis baie tragies.

Racheltjie Debeer ·

“Altesame 628 mense het in 2019 in padongelukke gesterf, waarna 463 in 2020 op die land se paaie gesterf het.” Dit is relatief min in vergeleke met SA se sterte syfer in padongelukke. Hier sterf meer mense in ‘n langnaweek as wat daar in ‘n jaar sterf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.