46 dood toe gebou in Taiwan brand

Die brandende gebou in die stad Kaohsiung in die suide van Taiwan (Foto: Kaohsiung Fire Department / AFP)

Minstens 46 mense is dood en nog 41 beseer nadat ʼn brand gisternag by ʼn woonstelgebou in die stad Kaohsiung in die suide van Taiwan uitgebreek het.

Die voorval word as die eiland se dodelikste brand in dekades bestempel.

Die brand het Donderdag in die vroeë oggendure in die gebou van 13 verdiepings uitgebreek en oor verskeie verdiepings heen versprei voordat brandbestryders die vlamme eindelik in bedwang kon bring.

Volgens die brandweer van Kaohsiung het dit sowat vier uur geduur om die brand te blus en is meer as 70 brandweerwaens na die brandende gebou gestuur om die vlamme in bedwang te help bring.

Die meeste sterftes is tussen die sewende en elfde verdiepings aangemeld waar verskeie woonstelle geleë is. Die eerste vyf verdiepings is ingerig vir kommersiële gebruik en daar was genadiglik niemand op dié verdiepings ten tyde van die brand nie.

Die brand het vermoedelik op die laer verdiepings uitgebreek.

Die reddingsdienste Donderdag op die toneel ná die brand in Taiwan. (Foto: STR / CNA / AFP)

“Ek het harde knalgeluide op die grondverdieping gehoor en afgekom om ondersoek in te stel,” het ʼn ongeïdentifiseerde man, wat in die gebou woon, op die toneel gesê. “Ek het toe besef daar is ʼn brand en ek het die polisie gebel.”

ʼn Ander inwoner het vertel dat die gang buite haar woonstel in donker rook gehul was.

ʼn Konstabel verbonde aan die plaaslike polisie het aan AFP gesê die gebou is sowat 40 jaar oud en huisves meestal inwoners met ʼn lae inkomste.

Daar woon vermoedelik sowat 100 mense in die gebou.

Volgens die konstabel kan brandstigting nie in dié stadium uitgeskakel word nie en forensiese spanne stel ondersoek in.

Die laaste soortgelyke verwoestende brand in Taiwan het in 1995 plaasgevind toe 64 mense in ʼn volgepakte karaokeklub omgekom het.

Taiwan het streng boukodes en ʼn algemeen goeie veiligheidsrekord wat geboue betref aangesien die eiland gereeld aardskuddings moet trotseer.

Sommige van die hoogste dodetalle weens aardbewings is egter in Taiwan aangeteken nadat ouer geboue ineengestort het. Ondersoeke het soms daarna getoon dat die geboue nie aan die betrokke boukodes voldoen het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.