Altesaam 49 mense is dood en 22 ander ernstig beseer nadat ʼn vliegtuig van die US-Bangla-lugredery by die Kathmandu Internasionale Lughawe in Nepal in ʼn oop veld langs die aanloopbaan neergestort en in vlamme uitgebars het.
Volgens African News Agency was daar glo 71 passasiers, onder wie vier bemanningslede, aan boord die vliegtuig.
Manoj Neupane, ʼn polisiewoordvoerder, sê 40 van die oorledenes se liggame was binne die vliegtuigwrak vasgekeer, terwyl nog nege in die hospitaal dood is.
Volgens hom is die oorledenes nog nié almal uitgeken nie.
K.P. Sharma Oli, Nepal se eerste minister, het die ongelukstoneel besoek en beloof om die oorsaak van die ongeluk deeglik te ondersoek.
Volgens getuies is die vliegtuig glo uitmekaar geskeur toe die vlieënier ʼn noodlanding probeer doen het.
Die Nepali Times berig die vlieënier se verwarring om die vliegtuig vanaf die oostelike kant van die aanloopbaan te laat land, het waarskynlik tot die ongeluk gelei.
Volgens die nuuswebwerf Nepal Khabar was verskeie passasiers mediese studente van Nepal. Ander passasiers was glo Bangladesjers en Chinese.
ʼn Ondersoek na die voorval duur steeds voort.