5 000 brandbestryders takel reusebrand in Kalifornië

Die Dixie-veldbrand verswelg ‘n huis in Plumas County in die noorde van Kalifornië. (Foto: JOSH EDELSON / AFP)

Duisende Amerikaanse brandbestryders probeer nou reeds byna twee weke lank ’n reusebrand in die noorde van Kalifornië onder beheer kry. Die sogenaamde Dixie-veldbrand het middel Julie ontstaan en intussen só groot geword dat hy nou sy eie weerstelsel genereer.

Die vlamme staan in dié stadium só hoog dat dit wolke geskep het wat weerlig en sterk winde kan veroorsaak, wat weer die vuur verder kan aanvuur.

“As hierdie wolke hoog genoeg word, kan dit weerlig oplewer,” waarsku Julia Ruthford, die betrokke meteoroloog wat aan die brand toegewys is.

Die veldbrand woed sedert 13 Julie in die woude van Noord-Kalifornië. ’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die brand ontstaan het nadat ’n boom op een van die kraglyne geval het.

Ongeveer 5 400 brandbestryders – sommige van so ver as Florida – spook sedertdien om die vlamme in bedwang te bring. Die brand het ten spyte van sy omvang tot dusver nog net uiters afgeleë gebiede vernietig, waaronder strukture soos huise en ander geboue.

The Washington Post berig altesame 192 849 hektaar het teen Sondagaand reeds in dele van Butte County en Plumas County afgebrand. Nog net 21% van die brand was teen gistermiddag in bedwang gebring.

Die Dixie-veldbrand word bestempel as Kalifornië se grootste brand tot dusver vanjaar en vorm deel van ʼn klimaatkrisis wat versengende hitte en ʼn onrusbarende droogte in die omgewing meegebring het.

Hoewel die voorkoms van veldbrande algemeen in Kalifornië is, het vanjaar se veldbrande reeds al drie keer meer plantegroei verwoes, vergeleke met verlede jaar. Boonop was 2020 die ergste brandjaar in die geskiedenis van Kalifornië.

Die brande in Kalifornië en die naburige Oregon het vanjaar ongewoon vroeg in die brandseisoen gekom. Kenners meen die rede hiervoor is die jare lange droogte, stormwinde en ʼn uiters warm somer wat met klimaatsverandering verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elinette ·

Sjoe, dis erg. Kyk maar programme soos The World’s Worst Weather en mens besef hoe klein ons ou mensies maar regtig is, vergeleke met Moeder Natuur op haar beste. Brande en vloede, asook aardbewings is seker van die ergste natuurrampe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.