5-jarige sterf in fratsongeluk by skool ná sy kanker oorwin

Camila de Almeida Torcato (Foto: GoFundMe)

ʼn Vyfjarige meisie van North York in Kanada is dood toe ʼn leë sportsnutsvoertuig vanaf ʼn helling teruggerol en haar saam met haar pa teen hul gesinsvoertuig vasgepen het.

Volgens die Kanadese nuuswebwerf CTV News het dié voorval Maandag buite die St. Raphael Catholic School plaasgevind.

Die meisie, wat twee jaar gelede ʼn stryd teen kanker geveg én oorwin het, is intussen as Camila de Almeida Torcato geïdentifiseer.

Camila is glo met kritieke beserings na die hospitaal gehaas, maar is ʼn paar uur later dood. Haar 42-jarige pa is volgens berigte ook met matige beserings in die hospitaal opgeneem, maar dadelik weer ontslaan.

Volgens CTV is dit nog nie bekend of die motor moontlik uit rat was en of ʼn meganiese fout aanleiding gegee het tot die voorval nie.

Ana Paula Carrera, ʼn familievriend, het aan die nuuswebwerf Mirror gesê die familie is “verpletter” oor Camila se dood. Carrera het intussen ʼn gedenkdiens by die St. Raphael Catholic School vir Camila gehou.

“Sy het ʼn pragtige siel en hart gehad. Die hele familie gaan deur ʼn baie moeilike tyd – die gedenkdiens was die enigste manier waarop ons kon help,” het sy gesê.

Carrera het gesê die ongeluk volg net twee jaar nadat kanker by haar gediagnoseer is en sy onder meer ʼn operasie moes ondergaan om ʼn gewas uit haar een nier te sny. Sy was sedertdien in remissie.

Emmy Milne, ʼn woordvoerder van die Katolieke distrikskoolraad, het vroeër gesê die gebied waar die ongeluk plaasgevind het, is ʼn besige verkeersgebied.

Ondersoekbeamptes het volgens nuusberigte beslag gelê op die sportsnutsvoertuig as deel van die ondersoek wat steeds voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.