5 sterf toe pyp in Russiese hotel bars

‘n Skermgreep van beeldmateriaal van die hotel in Perm, Rusland, waar die voorval plaasgevind het. (Foto: Ministry of Emergency Situations press service, AP)

Vyf mense is dood toe ’n verhittingspyp Maandag by ’n klein hotel in Rusland gebars en hotelkamers deur kokende water oorstroom is. Drie ander mense het brandwonde in die voorval opgedoen.

Mini Hotel Caramel, ’n hotel met nege kamers, word in die kelder van ’n huis in die stad Perm bedryf. Dié stad is naby die Oeral-bergreeks in Rusland geleë.

Volgens Oleg Melnitsjenko, ʼn amptenaar in die Russiese wetgewer, sal die plaaslike regering in die lig van die voorval ʼn verbod op die opening van hotelle en hostels in kelders moet oorweeg.

“Hostels moet nie in kelders bedryf word waar daar pypleidings is nie,” meen hy.

Die Russiese parlement het verlede jaar die bedryf van hostels of hotelle in woonstelle verbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.