50 000 vuurwapens in Nieu-Seeland ingehandig

Mike McIlraith, waarnemende superintendent van die polisie, wys ʼn AR-15-aanvalswapen aan wetsmakers, soortgelyk aan die vuurwapen wat ʼn skieter gebruik het om 51 aanbidders by twee moskees in Wellington, Nieu-Seeland, te vermoor (2 April 2019) (Foto: AP Photo/Nick Perry, File)

Owerhede in Nieu-Seeland het Saterdag gesê hul land is ʼn veiliger plek ná eienaars meer as 50 000 vuurwapens ingehandig het toe ʼn verbod op aanvalswapens ingestel is. Kritici meen egter die proses het talle gebreke en baie eienaars versteek onwettig hul vuurwapens.

Die regering het sowat ʼn maand gelede ʼn verbod geplaas op meeste semi-outomatiese vuurwapens nadat ʼn man in Maart 51 aanbidders by twee moskees in Christchurch doodgeskiet het. Die polisie het ʼn ses maande program van stapel gestuur om die verbode wapens van die eienaars terug te koop.

Die program het Vrydagaand om middernag tot ʼn einde gekom.

Volgens voorlopige syfers het 33 000 altesaam 51 000 vuurwapens ingehandig. Nog 5 000 vuurwapens, as deel van ʼn parallelle amnestie waar eienaars enige tipe vuurwapen kon inhandig sonder dat enige vrae gevra word maar sonder om vergoeding te ontvang, is ook ingehandig.

Eienaars het nog ʼn verdere 2 700 vuurwapens gewysig om seker te maak dit voldoen aan wetgewing. Polisiebeamptes het sedert Maart ook beslag gelê op 1 800 vuurwapens van bendes en hulle is ook besig om ʼn verdere 1 600 vuurwapens van vuurwapenhandelaars te konfiskeer.

Polisieminister Stuart Nash het Saterdag aan verslaggewers gesê dit sal al hoe moeiliker wees vir misdadigers om aanvalswapens te bekom, omdat hulle dit gewoonlik by wettige eienaars steel, maar dié wapens is nou nie meer in sirkulasie nie.

Mike Clement, adjunkkommissaris van die polisie, het vuurwapeneienaars bedank dat hulle die regte ding gedoen het. Hy het in ʼn verklaring gesê dit is “ʼn moeilike proses vir sommige mense”.

Nash en Clement meen die land is nou veiliger as wat dit was voor die aanvalle in Maart.

Nicole McKee, woordvoerder vir die Council of Licensed Firearms Owners, het gesê eienaars het sowat twee derdes van die verbode wapens behou, omdat hulle nie meer vertroue het in die regering nie en nie behoorlike vergoeding aangebied is nie.

“Hulle het dit nooit verwerk dat owerhede hulle daarvan beskuldig het dat hulle op een of ander manier verantwoordelik is vir terreurdade nie – iets wat hulle nooit sou doen nie,” het McKee in ʼn verklaring gesê.

Die verbod op aanvalswapens is byna ten volle deur wetsmakers ondersteun in ʼn geskiedkundige 119-1 stem ná die moskee-aanvalle. Wetsmakers oorweeg nou verdere beperkings, waaronder ʼn register van alle vuurwapens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.