50-jarige herdenking van reuse aardbewing en tsunami

Foto: Die foto wat deur die USGS beskikbaar gestel is toon hoe ‘n vierverdeping-woonstelgebou wat met gewapende beton versterk was, eenvoudig papgedruk is.

Foto: Die foto wat deur die USGS beskikbaar gestel is toon hoe ‘n vierverdeping-woonstelgebou wat met gewapende beton versterk was, eenvoudig papgedruk is.

Die tweede grootste aardbewing wat ooit gemeet is, en wat ongeveer twee keer so sterk was as die aardbewing en tsunami wat soveel dood en verwoesting in Japan aangerig het, se 50ste herdenking word Donderdag met verskeie geleenthede in die VSA gedenk.

Die Amerikaanse Geologiese opnamesentrum, die USGS, stel ook vandag verskeie video’s oor die aardbewing en die ondersoeke daarna vry.

Op 27 Maart 1964 het ‘n aardbewing van 9,2 op die momentmagnitudeskaal in Alaska plaasgevind. Elektriese horlosies in die hoofstad Anchorage het om presies 5:36 namiddag gaan staan. Vir vier tot vyf minute lank het die tyd gaan stilstaan terwyl die skokgolwe dood en verwoesting gesaai het.

Die skokgolwe het ook tsunami’s tot gevolg gehad wat dood en verwoesting aan die Amerikaanse Weskus aangerig het. Altesaam 131 mense is dood, en die skade is in vandag se waarde op $2,3 miljard geraam.

Hoewel Anchorage sowat 140 kilometer van die episentrum af geleë was, het ‘n geoloog wat op die twaalfde verdieping van ‘n gebou was toe die skokgolwe die stad getref het, vertel dat die gebou op daardie hoogte sowat drie meter horisontaal geskud het, en sowat ‘n meter vertikaal. Kabinette en ander kantoortoerusting is rondgeslinger.

Die meeste skade in Anchorage is deur grondstortings veroorsaak. ‘n Ovaalvrormige stuk so groot soos 14 straatblokke is deur die grondstortings verskuif. Verskeie geboue wat in ‘n skeur geval het wat deur die aardbewing oopgeruk is, is beskadig.

Die aardbewing het daartoe gelei dat die West Coast and Alaska Tsunami Warning Center geskep is, terwyl wetenskaplikes baie wys kon word om gevaartekens te lees, soos die gevare wat in die Cascade-afsaksone aan die kus van Oregon voorkom. Die gebied, veral waar dit by die verlenging van die San Andreas-verskuiwingsvlak aansluit, het juis ongeveer ‘n maand gelede weer ‘n betreklike groot aardbewing opgelewer.

Geoloë wat in 1964 die oorsake van die aardbewing moes ondersoek, se navorsing het tot ‘n veel beter verstaan van kontinentale verskuiwing en die gedrag van die verskuiwende tektoniese plate bygedra. By Alaska beweeg die dun, maar kompakte Pasifiese plaat teen ‘n tempo van ongeveer 6 cm per jaar onder die Amerikaanse plaat in. Dit word afgedruk en gesmelt sodat dit in die aarde se mantel opgeneem word. Dit het volop vulkaniese aktiwiteite en talle aardbewings tot gevolg, maar reuse aardbewings kan ontstaan wanneer druk opgebou is, en dan “glip”. Dit staan as mega-aanstuwing bekend. Met die aardbewing van 1964 is meer energie vrygestel as al die ander gemete aardbewings saam in Alaska.

Boorwerk in Alaska toon dat daar die afgelope 5 500 jaar nege sulke groot aardbewings in Alaska voorgekom het. Hulle het gemiddeld elke 600 jaar voorgekom.

Die sterkste aardbewing wat ooit gemeet is, is in 1960 by Valdivia in Chili gemeet. Dit het 9,5 op die momentmagnitudeskaal gemeet. Verskeie van die wêreld se sterkste aardbewings die afgelope week het juis in die Noordweste van Chili voorgekom.

Die aardbewing van 26 Desember 2004 wat by Sumatra voorgekom het, en waarvan die tsunami’s wyd dood en verwoesting aan die Atlantiese kuste veroorsaak het, het M9,1 gemeet.

Die Momentmagnitudeskaal, soos die Richterskaal, is so opgestel dat ‘n aardbewing wat 9 sou meet, tien keer sterker sou wees as een wat 8 meet. ‘n Aardbewing wat M9,2 sou meet is dus nie net effens sterker as een van M9 nie, maar ongeveer dubbel so sterk.

Bronne: Fox News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.