50 sterf in Filippynse vliegramp

Lede van die Filippynse weermag soek na die vliegtuig se vlugdata-opnemer. (Foto: Verskaf deur die Filippynse weermag)

Altesame 50 mense is dood toe ’n militêre vliegtuig Sondag met 96 passasiers in die Filippyne neergestort het.

Die Hercules C-130-vervoervliegtuig wou glo op ’n aanloopbaan op die suidelike eiland Jolo in die provinsie Sulu land, toe dit “gegly” en in ’n nabygeleë nedersetting aan die brand geslaan het.

Die ongeluk het die lewe van 47 militêre personeel en drie burgerlikes op die grond geëis en word as een van die Filippyne se ergste militêre lugrampe beskryf.

Nog 53 mense, hoofsaaklik soldate, is gedurende die vliegramp beseer. Dit is nie duidelik of die vlieëniers onder die oorlewendes is nie.

Die drie mense wat op die grond dood is, het in ’n steengroef gewerk, het die dorpsleier, Tanda Hailid, aan AFP gesê. Dít terwyl Filippynse veiligheidsmagte Maandag nog na die vliegtuig se vlugdata-opnemer gesoek het om meer inligting rakende die ramp te bekom.

“Afgesien van ooggetuieverslae is ons ook op soek na opnames van radiogesprekke tussen die vlieënier en die beheertoring,” het ’n woordvoerder van die Filippynse weermag, genl.maj. Edgard Arevalo, gesê.

Die meeste van die vliegtuig se passasiers het onlangs basiese militêre opleiding voltooi en is na die eiland ontplooi as deel van ’n teenopstandoptrede in dié Moslem-meerderheidstreek. Die weermag het ’n groot teenwoordigheid in die suide van die Filippyne waar militante groepe bedrywig is.

“Dit is een van die mees tragiese voorvalle wat al in ons weermag plaasgevind het,” het Arevalo gesê.

Die tweedehandse Hercules wat Sondag neergestort het, is een van vier in die Filippynse vloot en kom van die Verenigde State. Die vliegtuig is vroeër vanjaar in die Filippyne afgelewer.

Twee ander vliegtuie ondergaan in dié stadium herstelwerk terwyl die ander intussen aangesê is om nie te vlieg ná Sondag se voorval nie.

Volgens Arevalo word die vliegtuie almal deur ervare vlieëniers gevlieg, “daarom kan ons nie onmiddellik sê hoe [die vliegongeluk] gebeur het nie.

“Selfs al is hierdie [militêre bates] nie splinternuut nie … dit is lugwaardig, seewaardig en landwaardig.”

Jose Antonio Custodio, ’n militêre historikus en ontleder, sê die ongeluk is die dodelikste nóg vir die Filippynse lugmag.

“Dit word beskou as die ergste ongeluk van ’n Filippynse militêre vliegtuig tot dusver. In 1971 is 40 mense tydens ’n ongeluk met ’n PAF C-47 dood,” het Custodio aan AFP gesê.

’n Black Hawk-helikopter het ook verlede maand tydens ’n oefenvlug neergestort. Al ses aan boord die helikopter is gedurende die voorval dood. Die Filippynse weermag se hele Black Hawk-vloot word sedertdien op die grond gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.